Student dood in kamer gekry

’n Tweedejaarstudent in een van die Universiteit Stellenbosch (US) se vrouekoshuise, Heemstede, is verlede Saterdagaand dood in die koshuis aangetref.


’n Tweedejaarstudent in een van die Universiteit Stellenbosch (US) se vrouekoshuise, Heemstede, is verlede Saterdagaand dood in die koshuis aangetref.

Dit word vermoed dat die student, wie se naam nog nie aan die media bekend is nie, haar eie lewe geneem het.

Volgens kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, is die 21-jarige student se liggaam Saterdagaand omstreeks 07:00 in ’n kamer in die koshuis gevind.

“Geen misdaad word vermoed nie en ’n geregtelike doodsondersoek is van stapel gestuur,” het Martin verder gesê.

Dr. Choice Maketha, die US se senior direkteur van studentesake, het haar medelye met die US-gemeenskap en die student se ouers uitgespreek.

“Die kampusgemeenskap is bedroef oor die verlies van ’n kosbare jong lewe. Ons harte gaan uit na die familie in hierdie moeilike en pynlike tyd van verlies. Mag die familie krag vind in hierdie tydperk van rou en weet dat hulle deur die US-gemeenskap ondersteun word.”

Die US het gesê sy sentrum vir studentevoorligting en -ontwikkeling tesame met die ER24-nooddienste het sedert Saterdagaand berading aan studente en koshuispersoneel in die koshuis gebied.

Maketha het ook ’n beroep op studente gedoen om uit te reik vir hulp. “Ek moedig enige student aan wat berading benodig om met die universiteit se 24-uur-nooddiens by 010 205 3032 of 082 557 0880 ná ure en 021 808 4994 in werksure, te skakel. Ek vra ook die kampusgemeen­skap moet die studente se familie en vriende ruimte gee om hul verlies te verwerk.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.