’n Manstudent aan die Universiteit Stellenbosch is verlede Donderdag (4 Augustus) skuldig bevind aan seksuele wangedrag in die Majuba-koshuis op 17 Mei vanjaar.
Dit volg nadat ’n vrouestudent van die US op 18 Mei ’n beweerde seksuele aanranding by die Stellenbosch-polisie aangemeld het. Sy het ook ’n klagte by die US se eenheid vir gelykwaardigheid ingedien, wat die saak na die kantoor vir studentedissipline vir ondersoek verwys het. ’n Studentedissipline-ondersoek het gevolg en die onafhanklike sentrale dissiplinêre komitee (SDK) het daarna ’n verhoor aangaande die saak gehou. Die SDK het die manstudent op 4 Augustus skuldig bevind.
Die student is gevolglik uit die US geskors en die sanksies moet vir die studentegemeenskap gepubliseer word op ’n wyse wat die kantoor vir studentedissipline aanvaarbaar vind.
“Die identiteit van die partye moet beskerm word en geen inligting mag bekend gemaak word wat dit sal moontlik maak om enige getuies in die saak te identifiseer nie. Ingevolge die US se dissiplinêre kode vir studente het die student vyf werksdae om teen die SDK se bevinding en sanksies te appelleer,” het die US-woordvoerder, Martin Viljoen, gesê. “Die strafregtelike klag rakende hierdie saak duur voort en navrae hieroor kan aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens gerig word,” het hy beklemtoon.
“Die universiteit staan daarby dat geen geslagsgebaseerde geweld enigsins geduld sal word nie,” het prof. Deresh Ramjugernath, viserektor vir leer en onderrig, gesê. “As bestuur herhaal ons ons diepe kommer oor voorvalle van seksuele wangedrag. Die universiteit veroordeel alle vorms van misdaad en enige skending van menseregte, insluitend geslagsgebaseerde geweld, ten sterkste. Ons gaan voort om geslagsgebaseerde geweld op ons kampusse in ooreenstemming met ons beleid oor onbillike diskriminasie en teistering te bestry.
“Die US-bestuur respekteer die onafhanklikheid van die tugproses en heg groot waarde aan die kundigheid van die SDK,” het Ramjugernath gesê.