Student op sy fiets doodgesteek

’n Eerstejaarstudent van die Universiteit Stellenbosch (US) is dood nadat hy Woensdag (16 Oktober) in die vroeë oggendure doodgesteek is.


’n Eerstejaarstudent is dood nadat hy Woensdag (16 Oktober) in die vroeë oggendure doodgesteek is.

Die Stellenbosch-polisie het gesê die student is aangeval toe hy omstreeks 03:00 in Borcherdstraat in die middedorp op sy fiets gery het. Die 19-jarige was op sy fiets onderweg toe hy beroof en gesteek is. Hy het ’n sak met persoonlike besittings by hom gehad.

Volgens kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, is ’n verdagte in verband met die student se dood in hegtenis geneem.

Enigeen met inligting oor die voorval word gevra om die ondersoekbeamptes, sers. Kelvin Moses by 084 564 1078 en kapt. Wiener Jacobs by 082 559 4646 te bel.

Dié moord kom slegs twee weke nadat ’n vroulike student voorverlede Donderdag (3 Oktober) in die middedorp ontvoer is.

Twee mans het vermoedelik die 20-jarige om 02:40 gegryp toe sy naby Pleinstraat gestap het. Die verdagtes het haar ontvoer, gedwing om geld te trek en uiteindelik ’n losprys van haar familie vir haar vrylating geëis.

Sy is die volgende dag vrygelaat nadat haar familie die losprys betaal het, maar die twee verdagtes is vasgetrek en het reeds in die plaaslike landdroshof verskyn.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.