Die familie van ’n tweede jaar onderwys-student aan die Universiteit van Stellenbosch (US) is geskok gelaat nadat hulle ’n oproep aan die ander kant van die wêreld gekry het, dat hy oorlede is.
Die student (22) was ’n inwoner van die Huis Marais-koshuis. Hy is Dinsdagoggend in sy woning gevind waar hy vermoedelik sy eie lewe geneem het.
Eikestadnuus het vandeesweek met ’n mede-student gesels wat meen Caleb James Lamoure is die laaste persoon van wie ’n mens só iets sou verwag. Lamoure was glo altyd gereed met ’n woord van bemoediging en te sien met ’n glimlag.
Medely van studente is op sosiale media gedeel oor die jong man.
Lamoure het glo Maandagaand met sy vriendin gestap voor sy huis toe is en hy na die manskoshuis is. Hy is Dinsdagoggend gevind waarna nuus oor die tragedie met mede-studente gedeel is.
Lamoure se ma, Genene, en suster, Bianca Williams, het ’n geldinsameling begin om geld in te samel vir Lamoure se begrafnisreëlings en om vanuit Nieu-Seeland terug na Suid-Afrika te keer. Genene het glo na haar dogter gereis om vir ses maande die gesin te help aangesien hulle geen familie in Nieu-Seeland het nie.
“Ons het ’n gewone aand gehad toe my ma die oproep ontvang om te sê my baba-broer van 22 het selfdood gepleeg by sy koshuis op kampus by die Universiteit in Suid-Afrika. Ons weet nie waar om te begin nie, maar ons weet ons het geld nodig en my ma werk nie op die oomblik nie omdat sy hier is om ons te help, en ons het nie enige besteebare geld om te spandeer nie,” lui die familie se inskrywing op die Givealittle-platform.
Donasies kan deur middel van die webblad geskenk word.
Bianca verduidelik op die blad sy wil nie hê haar ma moet oor geldsake bekommerd wees nie. Sy skryf haar broer se dood voel steeds onwerklik en dat daar geen waarskuwingstekens vooraf was nie.
“Ek wil hom bel sodat hy vir my kan sê dit was alles net ’n misverstand.”
Stellenbosch se polisiewoordvoerder, kaptein Nathalie Martin, het gesê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen, maar geen gemene spel word in die stadium vermoed nie.
Lamoure was lid van die SOAR-program van die Universiteit. SOAR was gestig om eerste-generasie student te help en toekomstige leiers te help. “Caleb het die eerste keer in 2023 met die SOAR-program te doen gekry as student waar hy gefloreer het en ’n SOAR-mentor vir 2024 geword het. Ons innige meegevoel met sy vriende en familie gedurende hierdie moeilike tyd. Caleb sal vir altyd in ons harte voortleef en hy sal onthou word vir die groot invloed wat hy gehad het op SOAR en almal wat hy in sy leeftyd teëgekom het,” het die SOAR-span op Instagram geskryf.
By navraag het prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, gesê die kampusgemeenskap is diep bedroef deur die tragiese verlies van ’n kosbare jong lewe.
“Ons harte gaan uit na die familie op hierdie uiters moeilike en diep pynlike oomblik. Mag die familie gedurende hierdie tydperk van rou, krag put uit die wete dat hulle die ondersteuning van die US-gemeenskap het. Ons gedagtes is ook by die student se vriende en mede-inwoners in Huis Marais.”
Personeellede van die krisisdiens ER24 en die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling het Dinsdag 7 Mei berading aan studente in die koshuis gebied en sal in die komende dae verdere ondersteuning bied. Personeel van die Afdeling Studentesake was in kontak met familielede.
“Ek moedig enige student wat berading benodig sterk aan om die Universiteit se 24-uur-krisisdiens by 010 205 3032 na-ure en 021 808 4994 / 4707 (021 927 7020 op die Tygerberg-kampus) gedurende kantoorure te kontak,” sê prof Ramjugernath.