’n Student van die Universiteit Stellenbosch (US) sterk nou in die hospitaal aan nadat sy uit ’n venster van ’n koshuis in Claassenstraat geval het.
’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat die eerstejaarstudent (19) Donderdag 28 Maart uit ’n venster van die Metanoia-koshuis geval het.
Sy is op die toneel deur nooddienste gehelp en per ambulans hospitaal toe geneem.
Metanoia-koshuis is die US se grootste gemengde koshuis wat behuising vir 501 studente bied.
Netwerk24 het verlede week berig die student word in die hospitaal deur haar familie bygestaan en het moontlik ’n gebreekte been.
In Mei 2019 het ’n Matie, Taylië Chamondré Jaap, ook uit ’n koshuisvenster geval. Dié geval was ook op die plaaslike kampus, maar by die Serruria-koshuis.
“Die universiteit bly in kontak met die student, met die nuutste inligting wat daarop dui dat haar toestand verbeter,” het Martin Viljoen, ’n woordvoerder van die universiteit, by navraag gesê.
“Die US sal poog om waar toepaslik by te dra tot ondersoekpogings soos vereis deur die polisie.”
By navraag het kapt. Nathalie Martin, ’n woordvoerder van die Stellenbosch-polisie, bevestig ’n ondersoek is geopen, maar omdat die 19-jarige slagoffer steeds in die hospitaal is, het sy nog nie ’n verklaring afgelê nie.