Studente se kuns inspireer

Nege studente van die Marrianna Booyens Kunshuis gaan van 4 tot 11 Mei hul werk by die P.J. Olivier Kunssentrum in Stellenbosch ten toon stel. Die uitstalling, getiteld Inspire, bevat oorspronklike werke van die studente.


Nege studente van die Marrianna Booyens Kunshuis gaan van 4 tot 11 Mei hul werk by die P.J. Olivier Kunssentrum in Stellenbosch ten toon stel. Die uitstalling, getiteld Inspire, bevat oorspronklike werke van die studente.

“Die kunswerke is uiteenlopend, van ouwêreldse landskappe tot binne-kyk, poëties, van die siel-tipe werke. Daar is selfs ’n kunsmatige intelligensie geïnspireerde blom en landskappe te sien,” beskryf Booyens die kunswerke.

Wat die uitstalling ook uniek maak, is dat die studente, onder leiding van Booyens, self die uitstalling moes reël. “Hulle moes alles van die venue tot die blomme en al die kleiner goedjies self beplan. Elkeen moes ’n bydrae lewer tot die groter prentjie, maar leer om volle verantwoordelikheid te neem vir die afdeling waarin hulle gekies het om by te dra. Dit was nie so maklik nie, maar wel moontlik,” sê sy.

“Ek het al baie studente-uitstallings, asook my eie persoonlike uitstallings self gereël, maar dié een is iets heeltemal nuut, dis ’n nuwe been in my kunshuis se besigheid. Om ander te leer om ’n suksesvolle uitstalling te hou, en wat dit alles behels, is soos om iemand te leer om op ’n nuwe pad te ry. Daar is iemand wat die padtekens verduidelik en jou aanmoedig om by jou bestemming uit te kom – betyds!”

Sy sê sy was effe verstom toe sy die lang lys van take sien wat elkeen sou moes doen om die uitstelling te kon waar maak.

“Dit was nie altyd maklik nie, dit het soms vir my gevoel of ek nege ander mense se karre moet kickstart om aan die gang te kom, maar hulle was bereid om te leer by my, en ek het in die proses ook geweldig baie geleer.”

Sy sê dit was ’n voorreg om die pad saam met hulle te kon stap en sy is geraak deur die gehalte en die unieke stories wat deur die verskillende harte uitgebeeld word.

“Dit het my geïnspireer. Kom en geniet die uitstalling saam met ons en laat Inspire jou hart raak.”

Baie van die werke is te koop, en waar die oorspronklike kunswerke nie te koop is nie, sal daar ’n gehalte-afdruk van die kunswerk te koop wees.

  • Die uitstalling sal weeksdae tussen 10:00 en 16:00 en Saterdae tussen 10:00 en 13:00 oop wees. Die opening vind op Donderdag 4 Mei om 18:30 by die P.J. Olivier Kunssentrum plaas.

Vir meer inligting, kontak Marrianna Booyens by 082 875 4943 of www.marriannabooyenskunshuis.co.za

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.