Groot opgewondenheid heers in Stellenbosch oor die opening van die eerste ArtAttack Staproete-kunsuitstalling wat Saterdag (24 September) op Erfenisdag gehou gaan word.
Die inisiatief word jaarliks deur die P.J. Olivier-kunssentrum in samewerking met Proud Partners aan gebied en maak deel uit van die Graad 11-leerders se leersplan. Dit behels dat die leerders ’n kunswerk op papier moet skep wat met die omgewing inskakel – ’n sogenaamde straatkuns. Die leerders met die beste konsepte word as finaliste aangewys en kry dan die geleentheid om hulle kunswerke in en om die dorp op te rig en uit te stal.
“Inwoners kan stem vir hulle gunsteling kunswerk en daar is prysgeld op die spel vir die leerder wie se werk die meeste likes op sosiale media ontvang,” sê Marzé Botha, bemarkingsbestuurder by die kunssentrum.
Botha sê daar is vanjaar besluit om die kompetisie aan ’n staproete te koppel wat by die kunssentrum in Blomstraat begin en by die Stellenbosch Universiteit se botaniese tuin eindig.
“Op die roete is daar minstens 10 kunswerke wat wissel van ’n reuse stoel-installasie tot ’n kleurvolle Koi-vis mosaïekwerk en speelse figure wat teen ’n muur opklim. ’n Pragtige kaart wat aandui waar al die kunswerke is, sal by die opening uitgedeel word aan stappers en sal ook voortaan by kunssentrum, asook verskeie gastehuise, hotelle en die toerismekantoor beskikbaar wees.”
Volgens Isabel Verwey, uitvoerende direkteur van Proud Partners, wat die projek borg, wag daar lekker verrassings op inwoners en toeriste. “Na die Covid-19-pandemie is hierdie nuwe staproete ’n goeie inspuiting vir toerisme in Stellenbosch. Dis heerlik om weer buitelandse besoekers in die dorp te verwelkom en hierdie is ’n unieke manier vir hulle – en ook ons eie inwoners – om die dorp so stap-stap te verken en oral langs die ArtAttack-roete te stop om die kuns te besigtig, ‘n cappucchino of glas wyn by een van ons talle koffie en wynkroeë te geniet en die unieke atmosfeer van hierdie studentedorp in te drink,” vertel sy. “Ons het spesifiek die laaste kunswerke in die botaniese tuin geplaas sodat stappers ook hierdie pragtige en geskiedkundige deel van die dorp kan ervaar.”
Inwoners en besoekers kan vir hulle gunsteling kunswerk aanlyn stem by @_artattack_2022. Die wenner sal bekendgemaak word op 27 Oktober tydens P.J. Olivier-kunssentrum se jaarlikse prysuitdelingsfunksie.
Diegene wat die opening van die ArtAttack staproete wil bywoon kan Saterdag 24 September om 11:00 by die P.J. Olivier-kunssentrum in Blomstraat oorkant die Braak bymekaarkom. Daar sal kaarte vir al die stappers wees en die leerders sal almal by hulle kunswerke wees om meer inligting daaroor te verskaf.
Lys van kunswerke:
- Koi-vis – deur Renée Niewhoudt by die P. J. Olivier-kunssentrum.
- Man met gieter – deur Caitlin Grobler by die P. J. Olivier-kunssentrum.
- Interaktiewe kaart – deur Isabelle Goussard by Die Meul in Birdstraat.
- Figure wat trappe klim – deur Johané Villiers by die Le Coetzenburg gebou in Andringastraat.
- Historiese figure – deur Annabelle van Zyl in Ryneveldstraat.
- Draad boom – deur Joël Nkoko by Local Works in Drostdystraat.
- Drie Panele van Fynbos geïnspireerde figure – deur Jemimah Valentyn by die Stellenbosch Universiteit se botaniese tuine.
- Stoele en figuur-installasie – deur Annette Bruwer by die Stellenbosch Universiteit se botaniese tuine.
- Geweefde Bonsai – deur Janeke Kleinhans by die Stellenbosch Universiteit se botaniese tuine.
- Draad Spinnerak – deur Mia van der Merwe by die Stellenbosch Universiteit se botaniese tuine.
- 11) Kleur panele – deur Nadia Niemand by die Kruiskerk in Victoriastraat.