’n Suid-Afrikaanse student omhels ’n Oekraïense student by ’n teenoorlog-betoging by die Universiteit Stellenbosch Dinsdagaand 1 Maart. Foto: Francois Lombard


Honderde studente het Dinsdagaand 1 Maart, by die Rooiplein van die Universiteit Stellenbosch bymekaar gekom en ’n teenoorlog-betoging, wat deur verskeie studenteorganisasies gelei is, ondersteun.

Die studente het hul steun aan Oekraïne gewys nadat Rusland verlede week oorlog teen dié land verklaar het.

Nina Hugo van die Verenigde Nasies Vereniging van Suid-Afrika (Unasa) sê hulle het die betoging gereël om solidariteit aan die Oekraïense studente te wys en dat hulle teen die oorlog is. “Ons doen dit omdat ons land nog nie gedoen het wat hy moes om die Russiese gedrag te verwerp nie. As ’n land wat al deur soveel is en self onderdrukking ervaar het moet dit verwerp word.

“Ons sal alles in ons mag doen om dinge makliker vir die Oekraïense studente te maak,” sê Hugo.

“Hierdie is nie net ’n oorlog teen mense nie, dis ’n oorlog teen vryheid en mense se reg om te kies wie hulle moet lei. Ons steun Oekraïne en is teen die besluit wat Vladimir Putin geneem het,” het ’n Stellenbosse student, Daniel Prins, gesê.

Cheri Morris, sekretaris-generaal van Unasa, Universiteit Kaapstad, sê sy is teen imperialisme in alle vorms.

“Wat tans in Kiëf gebeur, is ’n bewys van imperialisme wat sedert die dae van kolonialisme voortgaan deur swart inheemse mense te onderdruk soos wat ook in Palestina, Jemen, Libanon en ander lande gebeur.

“Hierdie betoging is ’n emosionele ervaring omdat hier so baie Oekraïense studente op ons kampus is. Ons voel kwesbaar. Dit het ook lig gewerp op wat in ander lande soos Palestina gebeur. Ons staan saam teen oorlog,” het nog ’n US-student, Kate Hepplestone, gesê.

’n Emosionele Oekraïense student aan die US het gevra dat Suid-Afrika alle bande met Rusland moet verbreek.

“Kyk internasionale nuus, kyk alle nuus en moenie Russiese nuus glo nie. Baie lande is teen Rusland, hulle het nie goeie verhoudings nie. My familie, ouers en vriende is in Oekraïne. Ek hoop hierdie ding kan eindig,” het Kostiantyn Costa van Kiëf in Oekraïne gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.