Studente van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde het die afgelope naweek as deel van omgewingsbewustheid rommel op die strand in Strand gaan optel.Foto:


Studente van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit opvoedkunde het die afgelope naweek as deel van omgewingsbewustheid rommel op die strand in Strand gaan optel.

Dié inisiatief, wat nou in sy derde jaar is, is deel van die program “Beyond Education”, wat deur die fakulteit se studenteleiers in 2020 gestig is.

Volgens Marcel Adams, die stigter van Beyond Educaton, is besoedeling ’n wêreldwye probleem wat dringend die hoof gebied moet word. “Strande word gedurig deur besoekers besoedel, en dit het ’n verskriklik negatiewe invloed op die omgewing, die see en veral die seelewe. Dis net jammer mense besef dit nie,” sê Adams.

Adams meen hulle wil deur hierdie soort inisiatiewe juis bewusmaking skep deur mense te wys wat die probleme in terme van besoedeling is, maar hulle poog ook om onderwysstudente in aktiewe landsburgers om te skep.

“Ons stel ons studente elke jaar aan hierdie soort omstandighede bloot – vir ’n goeie rede.

“Talle is elke jaar geskok oor die hope rommel wat op die strande rondlê. Ons probeer dus hierdeur aktiewe bewusmaking in gemeenskappe skep, maar ons maak dan ook van ons studente aktiewe veranderingsagente, want hulle sal as onderwysers moet uitgaan en leerders aktiewe veranderingsagente maak.”

Volgens Adams kan die wêreld en die manier waarop mense dinge doen, slegs verander deur aktiewe en positiewe rolle in gemeenskappe te vervul.

Bewusmaking dra grotendeels daartoe by.

You need to be Logged In to leave a comment.