’n Eerstejaar-studentepaartjie van die Universiteit Stellenbosch het koppe bymekaargesit en ’n toepassing (toep) ontwerp wat studente behoorlik laat jol.
Die twee, Arnold Hattingh en Jené Venter, oorspronklik van Bellville, het die DJOL ontwerp om makliker toegang tot winskopies te kry. Dit is ’n aanlyn toepassing waar studente en enigeen wat dit gebruik, toegang gebied word tot al die nuutste winskopies en enige spesiale pryse wat restaurante, winkels en kuierplekke in en om Stellenbosch bied.
“Die woord ‘djol’ is Afrikaanse slang en beteken ‘om ’n lekker tyd te hê’. Watter beter manier as om die jongste kos-en-drank-specials onder jou vingerpunte te hê,” sê Venter, die baasbrein agter die idee.
Venter het verlede jaar in die Desembervakansie met die idee vorendag gekom. En, soos met baie verhoudings – as die vrou ’n idee kry, moet die man dit uitvoer – het Hattingh in die eerste semester vanjaar die ure ingesit en die toepassing van begin tot einde gekodeer.
“Arnold het ’n paar maande gevat om te leer kodeer en toe ’n verdere ‘miljoen’ ure om die toep te bou. Die proses het ses maande geduur,” vertel Venter.
Die toep is heeltemal gratis op die AppStore en Google Play Store beskikbaar.
“Die enigste koste is dat jy vir al jou vriende van hierdie handige toep moet vertel,” skerts Hattingh en voeg by die doel van die toep is om dit baie goedkoper te maak om na restaurante te gaan en ’n goeie tydjie te geniet.
“Dit is nie nodig om elke keer R150 vir een uiteetsessie te bestee as dit vir R60 gedoen kan word nie.”
Hattingh sê hulle is basies net twee beste vriende wat toevallig uitgaan. “Ons het op hoërskool ontmoet en dadelik van mekaar se avontuurlus en ambisie gehou. Die res is geskiedenis (afgesien van twee nee’s van Jené se kant af),” vertel hy laggend.
Hattingh studeer tans elektriese ingenieurswese en dink daaraan om daarna oorsee ’n graad in ekonomie aan te pak. Venter studeer BCom in internasionale sakebestuur en beplan ook om haar studies oorsee te voltooi.
“Ons toekomsplanne met die toep is massief. Ons is klaar besig om die toep na ander kampusse in die land uit te brei sodat enige student presies weet waar die goedkoopste burger is,” voeg Venter by.
“Ons is baie geseënd met ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk wat ons deur dik en dun ondersteun. Ons ouers staan rotsvas agter ons en ons vriende is baie ywerig om die toepassing te help bemark.”