Die studentepaartjie George Jonker (21) en Wilnelie Niemand (20) van die Universiteit Stellenbosch het hulle eie sakeondernemings in die inperking begin.Foto: William Sezoe


Sedert die begin van die pandemie het talle mense hul werk verloor, waarna die meeste hul eie ondernemings begin het. Buiten werkloses het selfs studente die inisiatief geneem om entrepreneurs te word.

Die studentepaartjie George Jonker (21) en Wilnelie Niemand (20) van die Universiteit Stellenbosch se opvoedkunde fakulteit is geen uitsondering nie. Dié twee onderwysstudente bestuur tans hul eie aanlyn tutor-agentskap en bied akademiese ondersteuning aan leerders in dele van die Boland en Noordelike voorstede van die Kaapse Skiereiland.

Ons sit en gesels op die stoep van die US se fakulteit opvoedkunde terwyl Niemand laggend vertel oor hoekom hulle die onderneming aan die begin van 2021 begin het.

“Ek het gevoel die vakansie raak te lank en ek wou nie net by die huis sit en niks doen nie. Toe besluit ek – hoekom nie dan eerder begin tutor nie,” vertel Niemand.

Die paartjie het tot nou al talle leerders gehelp om akademie makliker en meer verstaanbaar vir hulle te maak. Volgens Niemand fokus hulle veral op Afrikaans en wiskunde.

Jonker sê ’n probleem bestaan rakende wiskunde in Suid-Afrika omdat dit swak aangebied word, dus het hulle die behoefte vir ekstra wiskundeklasse gesien.

“Ek dink met die klasse het ons ’n geleentheid om dinge meer prakties te maak deur die inhoud meer na die leerders se vlak en konteks te bring. Op hierdie manier maak ons dit vir hulle lekker, maar ons help hulle met hul toekoms omdat jy oral in die lewe wiskunde gebruik om dinge te verstaan,” verduidelik Jonker.

Behalwe die twee se woelinge om leerders met hul opvoeding te ondersteun, het elk ook hul eie sakeonderneming wat hulle individueel bestuur.

Niemand het in 2020 gedurende die streng inperking ’n kwas en verf gegryp en begin skilder, min wetende dit sou tot ’n sakeonderneming lei.

“Ek het bloot uit verveeldheid net begin skilder; veral wilde diere. ’n Vriendin het toe voorgestel dat ek ’n uitstalling moet hou, waarna alles ontplof het. Meer mense wou skilderye koop,” vertel Niemand.

Jonker, wat al in 2015 met fotografie begin het, bestuur aan die anderkant ook sy eie drukwasser-onderneming wat hy in 2021 begin het, en sê die ontstaan van dié onderneming is ’n “snaakse storie”.

“Ek en my pa was by ’n maatskappy om ’n drukwasser te gaan huur om ons dak skoon te maak. Daar het ons besef om ’n masjien te koop, gaan goedkoper wees, en het dit toe eerder gekoop,” vertel Jonker.

Volgens Jonker het hy dit as ’n ideale sakeplan gesien. “Ek het mense gevra of hulle hierdie soort dienste benodig. Ek het in die eerste week reeds sowat 10 kliënte ontvang.”

Jonker en Niemand, wat tans voltyds terug op kampus is, sê hulle moes hul werkskedules vir vanjaar heelwat aanpas aangesien die meeste klasse aan die US weer fisiek gaan geskied.

“Ons moet nou maar weer innoverend begin dink en doen, wat beteken ons gaan heel waarskynlik slegs op Maandagmiddae en oor naweke kan sake doen, want ons studies kom natuurlik eerste,” sê Niemand.

You need to be Logged In to leave a comment.