Die StudentePlein 1-span se Naudé Lourens, Neelsie van Dyk, Ignus Ferreira en Righardt Pretorius is as die wenners van die US-ronde van die Dink of Sink-onvoorbereide debatkompetisie aangewys. By die wenspan is Nicolene Müller, die onderwys-projekkoördineerder vir AfriForum.


Die Dink of Sink-span van AfriForum het Saterdag 11 Mei die Dink of Sink-onvoorbereide debatkompetisie vir universiteitstudente by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied.

Die doel van die kompetisie as geheel is om debat in Afrikaans op laerskool-, hoërskool- en universiteitsvak te bevorder. Terselfdertyd leer die debatteerders ’n belangrike vaardigheid wat hulle in die toekoms sal baat wanneer hulle die werksplek betree.

Die burgerregteorganisasie het verlede jaar besluit om die kompetisie na elke universiteit in Suid-Afrika uit te brei. Die wenspan van die universiteit dring dan deur na die nasionale eindstryd, wat Saterdag 6 Julie plaasvind.

Altesaam 12 universiteitstudente van die US het aan die interne kompetisie deelgeneem. StudentePlein 1 se Naudé Lourens, Neelsie van Dyk, Ignus Ferreira en Righardt Pretorius is as die “grootste grootpraters” aangewys, terwyl StudentePlein 2 se Megan Jones, Megan Kruger, Isabella Burgers en Simoné Shirley as die naaswenners aangewys is.

“Die studente het waarlik hul staal gewys en vir ’n goeie kompetisie gesorg. Hulle het met goed geformuleerde argumente en selfvertroue die kompetisie aangepak. Dit is ongelooflik om te sien hoe die studente goed gestaafde argumente met relevante bronne binne ’n uur voorberei het,” sê Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.

“Die hoë gehalte van die debatte weerspieël die universiteitstudente se toewyding. Dit is opwindend om te sien hoe die studente verbeter in hul debatte en hoe hulle die vordering by die nasionale eindronde ten toon gaan stel.”

You need to be Logged In to leave a comment.