Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, in vennootskap met die departement van infrastruktuur, het die tweede ronde van behuisingsmarkstudies in sewe munisipaliteite, insluitend Stellenbosch, suksesvol voltooi.

“Hierdie inisiatief is deel van die Wes-Kaapse regering se voortgesette pogings om sy begrip van die plaaslike behuisingsmarkdinamika in die Wes-Kaap te verdiep, met die doel om goedgeleë- bekostigbare behuisingsgeleenthede te bevorder en die ontwikkeling van munisipale inklusiewe behuisingsbeleide te ondersteun – waar toepaslik,” sê Anton Bredell, die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.

Benewens Stellenbosch was die Drakenstein-, George- en Mosselbaai-munisipaliteite deel van die eerste studie. Die jongste fase het die munisipaliteite van die Swartland, Saldanhabaai, die Overstrand, Breedevallei, Bitou, Knysna en Oudtshoorn ingesluit.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het met die inligting wat uit die studie verkry is, sy insluitende soneringsbeleid ontwikkel en in geteikende gebiede begin toepas met die doel om die aanbod van bekostigbare, goedgeleë- bekostigbare behuisingsgeleenthede te verhoog.

‘n Woning is vir talle voortnemende huiseienaars onbekostigbaar, wat kan lei tot beperkte toegang tot formele behui- sing, veral vir laeinkomstehuishoudings, sê die departement.

Volgens die departement gebeur dit dat die vraag vir behuising die aanbod oorskry – juis weens die onbekostigbaarheid vir baie kopers. Dit is veral op intreevlak (tot R300 000) wat voortnemende kopers sukkel om behuising in hul prysklas te vind.

“Hierdie studies is deurslaggewend om ons die intelligensie te gee om slimmer te belê, beter te beplan en meer doeltreffend saam te werk om bekostigbare behuising te lewer waar dit die nodigste is,” sê Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur.

“Die behuisingskrisis gaan nie net oor syfers nie – dit gaan oor toegang, ligging en waardigheid. Hierdie data help ons om op maniere te reageer wat prakties, geteikend en inklusief is.”

Die finale fase van die behuisings- mark-studies is vir 2025-’26 geskeduleer en sal die vier munisipale studies van die eerste studie hersien en opdateer.

You need to be Logged In to leave a comment.