Anton Goosen (foto) is saam met Tarryn Lamb, Coenie de Villiers, Gian Groen en Robert Bolton in Altyd Immer by die Oude Libertas-teater as deel van Musiekspyskaart te sien.


Musiekindaba, wat van Woensdag 30 November tot Saterdag 3 Desember in Stellenbosch aangebied word, bring die ganse musiekbedryf byeen om koppe bymekaar te sit, verhoudinge te bevorder, loopbane te bou, te leer, inligting te deel en die wonderwêreld van musiek te vier.

Die indaba bied egter nie net die geleentheid vir mense in die bedryf om byeen te kom nie, want van die grootste name in Afrikaanse musiek sal in verskeie produksies te sien wees – van Amanda Strydom tot Anton Goosen, van Coenie de Villiers tot Emo Adams en van Jack Parow tot Early B.

Musiekspyskaart bied 10 vertonings by die Oude Libertas-amfiteater en die Fismer-, die Endler- en die Adam Small-teater aan. Hiervoor kom uiteenlopende kunstenaars van oor die land heen bymekaar vir ’n uitsonderlike reeks produksies om die diversiteit in kultuur en talent van ons beste gevestigde en opkomende kunstenaars te vier.

Schalk Joubert en Melissa van der Spuy is verantwoordelik vir die samestelling van Musiekspyskaart en kaartjies vir dié unieke reeks vertonings is aanlyn by Quicket te koop.

Die produksies op Musiekspyskaart: 

  • Dean Balie: Toonsettings van die digters met Dean Balie en Collin Meyer – Woensdag 30 November om 19:00 by die Fismersaal. Kaartjies kos R180.
  • Boeremusiek en mirrorballs met Rocco de Villiers – 30 November om 20:00 by die Endlersaal. Kaartjies kos R220. 
  • Rock & Rumba met Arno Carstens, Hassan’adas en Sima Mashazi – 30 November om 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies kos tussen R180 en R220. 
  • The Notes of the Ancestral Spirits met Dizu Plaatjies en Ibuyambo – Donderdag 1 Desember om 13:00 by die Fismersaal. Kaartjies kos R120.
  • Ramon Alexander: Ode aan Goema met die Ramon Alexander-sekstet en Nicolas Miso – Donderdag 1 en Vrydag 2 Desember om 19:00 by die Fismersaal. Kaartjies kos R200. 
  • Hoe ons voel met Amanda Strydom, Coenraad Rall en Frank Freeman – 1 en 2 Desember om 20:00 by die Adam Small-teater. Kaartjies kos R200. 
  • Hip-hop, bop & pop met Jack Parow, Early B, Loki Rothman en die Blake Hellaby-kwintet – 1 Desember om 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies kos tussen R180 en R220. 
  • Waar die hart is met Neil Sandilands, Andriëtte Norman, Louis Mhlanga, Sima Mashazi, Albert Frost en Schalk Joubert – 2 Desember om 20:00 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies kos tussen R180 en R220. 
  • Kaapse jol met Emo Adams – Saterdag 3 Desember om 15:30 by die Oude Libertas-amfiteater. Kaartjies kos tussen R180 en R220.
  • Altyd immer met Tarryn Lamb, Coenie de Villiers, Anton Goosen, Gian Groen en Robert Bolton – 3 Desember om 20:00 by die Oude Libertas-teater. Kaartjies kos tussen R180 en R220.

Musiekindaba het ook voorstelle van onafhanklike kunstenaars, agente en platemaatskappye ontvang en vertoonvenster- en foyer-konserte sal aangebied word om ’n verhoog aan nuwe talent te gee. ’n Straatfees, waar die hart van Stellenbosch gevul gaan word met musiek, spys en drank, word op 2 Desember aangebied.

Kunstenaars en die publiek kan nou by www.musiekindaba.co.za vir meer as 60 Musiekindaba-aanbiedinge in vier afdelings registreer: forte-hoofsprekers; presto-presto-paneelgesprekke; g-sleutel-werksessies; en Encore!-meesterklasse. Registrasie kos R200 vir kunstenaars en R400 vir die publiek.

You need to be Logged In to leave a comment.