Suid-Afrikaanse Kaapse Korps het baie belangrike rol in die land se militêre geskiedenis gespeel

Meer as 50 SAKK-veterane het die 60ste herdenking van SAKK in Eersterivier bygewoon.Foto:

Credit: SYSTEM

Veterane van Stellenbosch, Strand, die groter Wes-Kaap en die Oos-Kaap was onder die meer as 50 veterane van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps (SAKK) wat die 60ste verjaardagvieringe oor Erfenis-naweek in Eersterivier bygewoon het.

’n Vol program is vir die naweek saamgestel en het Vrydag 22 September met ’n teeparty op by 9 SA Infanterie-bataljon, voorheen die SAKK, afgeskop. Die teeparty is egter kortgeknip deur die regiment-sersant-majoor van die eenheid, sers.-maj. Dioko Moloto, wat sonder om verskoning te vra by die verrigtinge ingebars het waar senior offisiere teenwoordig was.

Twee vorige SAKK-bevelvoerders, brig.-genls. Barny Links en Graham Jacobs, nou afgetree, was die gassprekers die Vrydagaand by die dinee by die Logistieke Skool in Youngsfield en was ook teenwoordig toe die RSM kom inbars het by die teedrinkery die oggend. Links was die eerste bruin bevelvoerder in die SA Weermag by SAKK-onderhoudseenheid in Eersterivier en was een van die eerste 29 bruin soldate wat in 1963 aangesluit het.

“Hy het negatiewe aanmerkings kom maak omdat die veterane op die sportveld ’n tent opgeslaan het, want volgens hom is geen toestemming gevra om daar te vergader nie. Ek het die organiserende komitee gevra wat die toedrag van sake was vir die verrigtinge vir die Vrydagoggend en die voorsitter, Raymond Afrika, het bevestig dat alles gereël was,” sê Links.

By die dinee het hy gesê SAKK was vir vier eeue deel van die Magte van die Unie van Suid-Afrika en ook die Republiek van SA daarna.

“SAKK was van die begin af as politieke speelbal gebruik omdat die regering van daardie tyd SAKK gestig het en later weer ontbind het. As ek so na die veterane kyk wat deur die jare by die vyf eenhede van SAKK – 1 SAKK BN, 2 SAKK BN, Kaapse Korpsskool, Kaapse Regiment en onderhoudseenheid – hul diensplig gedoen en die land en sy mense gedien het, hulle lojaal was. By SAKK was dissipline een van die sterkpunte van die eenheid. Ná die Tweede Wêreldoorlog was SAKK weer as ’n eenheid gestig in 1962 en heropen op 3 September 1963. In 1992 is SAKK ontbind en het bekend geword as 9 SAI Bataljon,” sê Links.

“Daar is ’n paar mites oor die soldate van SAKK, want hulle was kwansuis nie vegtende soldate nie, maar die geskiedenis sal wys watter rol SAKK oor vier eeue gespeel het. Wyle Sonny Leon het aan die Geveg van Squarehill deelgeneem en daar is ander gevegte waar ons vereer is.

“In 1962 het die regering besluit om SAKK weer as speelbal te gebruik en is SAKK op 3 September 1963 gestig met twee pelotons onder die eerste bevelvoerder kmdt. Magiel Bredenkamp. Ons 29 is opgelei deur die room van die destydse weermag-instrukteurs en hulle was ongenaakbaar. Ons RSM was EPJ Nieuwenhuyzen, na wie die paviljoen waar ons vanoggend tee gedrink het, vernoem is. Al die bome in en om die basis is deur die eerste rekrute in 1963 geplant, asook vyf bungalows wat deur hulle gebou is. Ons het oor twee dae en nagte die swembad gebou.”

In 1972 het die hoof van die weermag, admiraal Hugo Biermann, aangekondig dis tyd vir vrywillige diensplig onder bruines en in Januarie 1973 is die eerste inname vir 12 maande gedoen en hulle het 50 sent per dag verdien.

“Ons wat reeds in die basis was, moes self werwing gaan doen het by skole in ons woongebiede. Ons is hieroor uitgelag, maar so het ons deur die jare SAKK opgebou totdat dit in 1992 doodgeloop het. Ek wil ’n beroep op alle veterane en diegene wat bande het met SAKK om op te staan, diegene wat nie met SAKK verbind wil wees nie, uitgesluit. Ons was soldate vir volk en vaderland. Ek wil ’n beroep doen op mense in die Kaap om op te staan vir SAKK, want oor 100 jaar sal hier nie meer ’n SAKK wees nie en ons geskiedenis sal verlore wees,” sê Links.

Jacobs het in sy toespraak gesê dat hy as die eerste bruinman by die Weermag-hoofkwartier in Pretoria gehelp het om die samestelling van sy personeel verteenwoordigend te maak.

“SAKK-veterane het hul beste jare vir die land gegee en opgeoffer om kommunisme uit die land te hou. Sedert die middel-70s het SAKK Suidwes, nou Namibië, beskerm teen oorname tot in 1988 toe vreedsame VN-gereelde oorgang bewerkstellig is. Dit was nadat president Ronald Reagan van Amerika in 1987 vir president Mikhail Gorbachev aangesé het om die Berlynse muur af te breuk, toe is kommunisme wêreldwyd verslaan, want SAKK het die Russe uit Suidwes gehou,” sê Jacobs.

Hy neem persoonlik verantwoordelikheid vir die sluiting van die SAKK-eenhede, want SAKK-lede het blootstelling nodig gehad om in ander Leer-eenhede te dien. Vele lede het baie hoë poste beklee in eenhede en hoofkwartiere wat voorheen net vir blankes beskore was.

“Die vinnigste wet wat in die parlement geskrap was, in die geskiedenis van RSA, selfs tot vandag, was die wet wat omskryf het dat ’n blanke die meerdere geag word van enige gekleurde soldaat, ongeag die gekleurde se rang en diensjare. Die wet was in April 1975 binne twee minute geskrap ná wyle Frederick van Zyl Slabbert, VP-leier, dit voorgestel het. Dit is in die Hansard van daardie jaar opgeteken. Wat insiggewend hiervan was, is dat die Polisie se eerste bruin offisiere, hul luitenant-range onder hierdie wet aanvaar het. Ons in die Weermag het gesê ons sal nie die aanstellings aanvaar nie al het ons 20 maande opleiding ondergaan. Ons sou nie 15 Mei 1975 opgedaag het vir PW Botha se oorhandiging aan ons as daardie wet nog op die boeke was nie,” sê Jacobs.

“Ons het van die beste operasionele uitslae gehad met ons optrede in die Grensoorlog in vergelyking met die sogenaamde wit eenhede. Ons vroue en kinders het deur hul onderskeie prestasies binne die Leer-familie en in die openbare gemeenskap eweneens hul bydrae gelewer tot die opheffing van die land. Die huidige speaker van die parlement, toe nog minister van verdediging, het tydens ’n werksessie van voormalige adjunk-president, David Mabusa, aan SAKK Militere Veterane erken dat dit tydens haar ‘watch’ was dat SAKK nie die regte en nodige erkenning gekry het en dat Mabusa verskonings aanteken en om verskoning vra.

“Die SAKK Militere Veteranevereniging is die enigste erkende liggaam vir SAKK-lede en is as sulks as deel van die Departement van Militere Veterane bedryf. Alle voormalige SAKK-lede word aangemoedig om by die SACCMVA aan te sluit en laat eenheid ons gesamentlike strewe wees. Splintergroepe saai net tweespalt en verwar mense,” sê Jacobs.

Die naweek se vieringe is met ’n kerkdiens in die Congreational kerk in Blue Downs afgesluit en al die afgestorwenes is op ’n ererol in die kerk gebeeldsend en vereer.

You need to be Logged In to leave a comment.