’n Eenmalige geleentheid om Suid-Afrika as skouspelagtige land, sy uitsonderlike wynmaakgemeenskap en veral sy wonderlike sauvignon blanc op ’n internasionale verhoog ten toon te stel, is om die draai.
Hoewel dit ’n uitdagende tyd vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, is die opwinding – om die grootste en mees gesogte Sauvignon blanc-kompetisie ter wêreld die heel eerste keer in ’n nuwewêreldland in Afrika, en spesifiek op Suid-Afrikaanse bodem aan te bied – heel tasbaar.
“Hierdie is ’n droom wat waar geword het,” sê RJ Botha, die voorsitter van die Sauvignon blanc-vereniging van Suid-Afrika. “Ons het vier jaar gelede met onderhandelinge met Quentin Havaux, ’n direkteur van die Concours Mondial du Sauvignon, begin. Ná maande en maande se samesprekings, vennote aan boord bring en byna onmoontlike planne wat gemaak is, pluk ons nou die vrugte van ons arbeid.
“Dit is hier. Dit is nou. Wat ’n wonderlike geleentheid vir ons kultivarorganisasie, ons wynbedryf en ons land om ons veerkragtigheid, uitnemendheid en Mzansi-gees ten toon te stel.”
Die Concours Mondial du Sauvignon vind van Maandag 13 tot Vrydag 17 Maart by die Le Franschhoek-hotel en spa in Franschhoek plaas. Beoordeling vind oor drie dae plaas en die uitslae word Maandag 20 Maart 2023 in Düsseldorf, Duitsland, by Prowein, die enigste internasionale handelskou wat die volledige wêreldmark dek, bekendgemaak.
Meer as 1 000 Sauvignon Blanc-wyne sal meeding om die aandag van 50 beoordelaars – van wie 40 internasionaal en 10 plaaslike wynkenners is.
Die paneel, wat met die hand van oor die wêreld heen uitgesoek is, sluit kundige proeërs in, onder wie Andrea Amadei, ’n joernalis by Decanter in Italië; Jean Smullen, ’n joernalis en wyngeleentheidsbestuurder in Ierland; die wynskrywer Paula Sidore van Duitsland; Peter De Leeuw, besturende direkteur van Kaapwijn Import De Leeuw in België; Christophe Bourgeois, ’n wynprodusent in Frankryk; Daphne Teremetz, wynaankoper by Waitrose in Groot-Brittanje; en Stefan Potzinger, die president van die Oostenrykse wynvereniging.
Die res van die internasionale kontingent kom uit Brasilië, Kroasië, Denemarke, Italië, Mexiko, Nederland, Noorweë, Pole, Spanje, Swede, Oostenryk, België, Duitsland, Frankryk, Groot-Brittanje en die Verenigde State (volledige lys by www.sauvignonblanc.com/concours).
Bekende Suid-Afrikaanse beoordelaars, wat ook by die paneel aansluit, is die Kaapse wynmeesters dr. Winnie Bowman en René Groenewald asook Heidi Duminy, Francois Rautenbach, dr. Carien Coetzee, Cathy Marston, Christian Eedes, Fiona McDonald, Joseph Dhafana en Malu Lambert.
Gedurende die kompetisie word Suid-Afrika se opwindende sauvignon blanc-streke ook ten toon gestel deur daaglikse uitstappies na Durbanville, die Constantia-wynvallei en Stellenbosch, en met spesiale aandetes, wat deur Diemersdal, Groot Constantia en Vergelegen aangebied word.
Om hierdie kompetisie na eie bodem te bring, is geen geringe prestasie nie. “Kollektiewe ondersteuning van die bedryf was instrumenteel om hierdie geleentheid ’n werklikheid te maak,” sê Botha. “Ons is uiters dankbaar vir die ondersteuning van ons platinumvennote Vinventions, Concours Mondial de Bruxelles (wat die tegniese organisasie van die proeë behartig), die nasionale konvensieburo en Wesgro, ons bronsvennote Boutes, Tonnellerie Garonnaise, Tonnellerie Sylvain, Enartis, Beveratech, FNB, Porex, Hillebrand GORI en Anchor Yeast, asook alle ander geleentheid- en mediavennote.
“Hierdie is ’n wonderlike platform vir al ons vennote om deel te wees van ’n positiewe Suid-Afrikaanse handelsmerkstorie. Dankie vir elkeen se samewerking om die beste wat Suid-Afrika te bied het, ten toon stel.”
Hoewel die Concours Mondial slegs ? handelskompetisie is, is die goeie nuus vir sauvignon-liefhebbers dat ’n sauvignon-safari in die Kaapse wynlande as deel van die internasionale sauvignon blanc-dag vieringe in Mei 2023 aangebied sal word. Die sauvignon-safari is ’n interaktiewe om-die-wêreld- sauvignon blanc-ervaring, insluitende ’n proe van Concours- mededingende wyne, sowel as trofeë- en goue- en silwermedaljewenners, soos Maandag 20 Maart in Düsseldorf, Duitsland, aangekondig word in samewerking met Wines of South Africa (WoSA) by Prowein asook aanlyn by www.cmsauvignon.com.