Suidoosterfees byna hier!

,

Die jaarlikse Suidooster-fees is amper hier en beloof om iets vir almal te bied. DIe fees is aan van Woensdag 30 April tot Sondag 4 Mei in die Kunstekaap-teaterkompleks.


Aangrypende teaterproduksies wag op besoekers aan die Suidoosterfees wat van Woensdag 30 April tot Sondag 4 Mei in die Kunstekaap-teaterkompleks aangebied word.

Die NATi-teaterfeesprogram bied uitsoekproduksies wat Suid-Afrika se grootste talent weerspieël. Gehore kry ook kans om te sien waarmee die opwindendste nuwe stemme in die bedryf vorendag kom. Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar is op die verhoog in Verwelkingslied, een van Suidoosterfees se vlagskipproduksies. Dié stuk is die laaste verhoogdrama wat uit Breyten Breytenbach se pen verskyn het voor sy dood verlede November.

Breytenbach, wat beskou word as een van die invloedrykste Afrikaanse skrywers, dra sy swanesang op aan Kellermann en Marthinus Basson, teaterveterane met wie hy in die verlede nou saamgewerk het. Marí Borstlap regisseer die produksie.

Nog ‘n vlagskipproduksie wat by die fees debuteer is Kompoun, gebaseer op Ronelda Kamfer se veelbekroonde roman. Jolyn Phillips het die verhoogverwerking van die roman gedoen, en die jong akteurs Melissa de Vries en Angelo Bergh is op die verhoog as Nadia en Xavie wat geheime van die McKinney-familie uitlap. Lee-Ann van Rooi is die regisseur.

‘n Veteraan van die teater- en rolprentwêreld, Simon Bruinders, is terug op die verhoog met Die sideboard en die vuur, wat uit sy pen verskyn het. Dié stuk volg op Bruinders se Die sideboard van ‘n dekade gelede, en vertel die verhaal van Abraham en Stella, wie se lewe deur gedwonge verskuiwings omvergegooi word. Zane Meas is die regisseur en Vanessa Swartz speel saam met Bruinders in die stuk.

Annie+Helen met Cintaine Schutte en Judi Hattingh, ‘n leerder van Curro Durbanville, handel oor die legendariese Helen Keller as ‘n 12-jarige meisie, en haar stormagtige verhouding met die 25-jarige Annie Sullivan. Keller se lewensverhaal van iemand wat blind, doof en stom gebore is, en die inspirerende manier waarop sy dié uitdagings oorkom het, is wêreldwyd bekend. Die produksie word aangebied in samewerking met Curro Create.

Ander produksies wat deel is van die program is die eenmanstuk Die uitweg met Carlo Daniels en Hortjies, ‘n huldigingstuk oor die digter Peter Blum, met Chris van Niekerk en Joanie Combrink. Dramas wat in vennootskap met Suidoosterfees vervaardig is en reeds by ander kunstefeeste gedebuteer het, kan nou ook deur Kapenaars geniet word, met onder meer Philip Rademeyer se trefferstuk Stinkhout met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt; Christo Davids se gewilde Laaitie mettie biscuits met Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson; Arnold Vosloo en Elzabé Zietsman is saam op die feesverhoog in Liefdesbriewe; Bo Petersen is te sien in Pieces of Me, en vele meer.

Die NATi Teaterfees word moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief, die Festival Enterprise Catalyst (FEC), die Jobs Fund, Het Jan Marais Nationale Fonds, Stad Kaapstad, die Spier Kunstetrust, die Johann Brink Trust en AK21.

 • Die fees se volledige program is by suidoosterfees.com beskikbaar en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word, tensy anders vermeld.

You need to be Logged In to leave a comment.