Die Suidoosterfees word vanjaar mondig en verskeie verrassings en hoogtepunte wag op feesgangers wanneer dié gewilde Moederstad-fees van Vrydag 26 April tot Woensdag 1 Mei by die Kunstekaapteaterkompleks aangebied word.
“Ons gaan dié belangrike mylpaal in ons geskiedenis onvergeetlik maak. Ná meer as twee dekades is daar baie hoogtepunte waarop ons ’n glasie saam met feesgangers, kunstenaars, borge en vennote kan klink,” sê Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees. “Kaapstad, ons tuiste in ons hele bestaan, is vir almal ’n bestemming van hoop, en met fees-aanbiedinge van uitstekende gehalte huldig ons graag ons weldoeners se waardevolle ondersteuning deur al die jare. Daarsonder sou die kunste in die Steentydperk vasgevang wees.”
Die NATi Teaterfees-program is weer propvol verrassings, insluitend ’n splinternuwe dramaproduksie, Onder ’n bloedrooi hemel, Nicola Hanekom se verwerking van Annemarié van Niekerk se trefferboek oor liefde en geweld in Suid-Afrika, ’n nuwe verhoogstuk deur Breyten Breytenbach wat spesiaal vir Antoinette Kellermann geskryf is, Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan met Sandra Prinsloo en Op die kruin van Shôdeville.
Gewilde dramas wat onlangs gehore by kunstefeeste en in teaters meegevoer het, maak ook ’n Suidoosterfees-draai: regisseur Nico Scheepers se briljante Braam en die engel; Pieter Odendaal se Droomwerk; Dana Snyman se Reünie met Frank Opperman; en Johann Slabbert se Routrip met Elzabé Zietsman.
Monsters, wat handel oor die moord op die Britse seuntjie James Bulger in 1993, onder regie van Tinarie van Wyk Loots, is ook op die program. Ander produksies wat deel is van die program is Ken jy vir Dewie?, Van die rak af, Gesplete tong, en Eg Kaaps: Salaam-stories.
Ook op die NATi-teaterverhoog, is produksies deur vyf nuwe NATi Jong Sterre, wie se werk die afgelope jaar ontwikkel is deur die fees, NATi en die Jakes Gerwel Stigting. Dié nuwe stemme is Geralt Cloete, Cara Rossouw, Mikayla Joy Brown, Miché van Wyk en Miliswa Mbandazayo.
’n Hoogtepunt op die dansprogram is Papillon wat gehore verlede jaar op die Edinburg-randfees in vervoering gehad het. Dié Kanadese dansteaterproduksie staan onder leiding van die choreograaf Helen Simard en musiekregisseur Roger White, en spog met ses lede op die verhoog.
Die Nederlandse teatermaker Minou Bosua besoek die fees saam met studente van die Koningstheateracademie. Hulle tree saam met Northlink Kollege-studente op in Bosua se How to raise our parents.
In die Suidoosterfees se mondigwordingsjaar word 21 teaterproduksies van 21 minute elk teen die kaartjieprys van R21 aangebied. Verskeie genres word in dié verjaardagreeks gedek – van teater, musiek, opera en dans tot ’n aanbieding in gebaretaal.
Soos in die verlede, spog die musiekprogram met Suid-Afrika se voorste kunstenaars. Onder diegene wat vanjaar kom help kersies uitblaas, is Nataniël, Babalwa Mentjies, Coenie de Villiers, Early B, André Schwartz, Lynelle Kenned, Elzabé Zietsman, Corneil Müller, Frazer Barry, Selim Kagee, Sima Mashazi, Edith Plaatjies, Nic Miso, Madeegha Anderson, Jawaahier Petersen, Jonathan Rubain, Emo en Loukmaan Adams, Kaapstad se Operakoor en Filharmoniese Jeugorkes asook die stad se Simfonieorkes.
Opwindende debuutproduksies op die program is ’n sonderlinge kabaret, Karamonk, met Bianca Flanders en die weergalose Jemma Kahn as regisseur, en die skreeusnaakse musiekkomedie TWAK: Van Hunks, die Duiwel en ander twak deur Francois Toerien.
Die Jakes Gerwel-stigting en die ATKV is bekend vir die reeks kritiese gesprekke by die fees wat gewoonlik sorg vir koerant-hoofopskrifte. Vanjaar is van die deelnemers aan die gespreksreeks Caster Semenya, Arthur Goldstuck, Prinsloo, Qaanitah Hunter, Mills Soko, Roelf Meyer, Francis Petersen, Nathan Trantraal, Diana Ferrus, Salim S. Abdool Karim, Angelique Coetzee, Phoebe Gerwel, Rachelle Greeff, Roy Havemann, Lyntjie Jaars, Marlene Mahokoto, Bernard Lategan, Dennis Cruywagen en Adriaan Basson.
Leerders en studente van verskeie instansies kom wys weer wat in hulle steek in die ATKV se Jeugteater-programafdeling. Wenners van verskeie amateur- en skole-toneelkompetisies kry die geleentheid om hul produksies aan ’n feesgehoor te bring. Studente van KPUT, Northlink Kollege en Universiteit Stellenbosch kom vind ook hul voete op die professionele verhoog.
Tydens die fees is daar verskeie kinderteaterproduksies – almal met ’n opvoedkundige inslag, en die fees bied vanaf 22 tot 25 April, net voor die hooffees, vir die eerste keer ’n Kinder- en Jeugfees aan. Die program vir dié splinternuwe fees word binnekort aangekondig.
Oudergewoonte is daar opwindende, leersame opleidingsessies by die fees. Die ATKV bied ’n opleidingspakket vir toneelregisseurs aan, wat drie dae duur. Dié kursus kos slegs R1 200, verblyf uitgesluit, en bied toegang tot talle professionele produksies op die feesprogram.
RSG, wat vanjaar die program Driesestig regstreeks vanaf 29 April tot 1 Mei tussen 13:00 en 15:00 by die fees uitsaai, bied ’n werkswinkel vir voornemende omroepers aan. Dié sessie is gratis, maar die publiek moet vooraf bespreek vir plek in Johan Rademan en Heidi Isaacs-Muller se geselskap.