’n Volgepakte Suidoosterfeesprogram word van Woensdag 27 April tot Sondag 1 Mei in die Kunstekaapteater in Kaapstad aangebied. Vanjaar gaan feesgangers getref word deur ’n warrelwind van uitstekende teater, musiek, dans en boekgesprekke.

Volgens prof. Brian Figaji, voorsitter van die feesdireksie, is alles in plek om ’n veilige en onvergeetlike ervaring aan feesgangers te bied. Die afgelope twee jaar kon die Suidoosterfees daarin slaag om ’n verskeidenheid aktiwiteite en projekte suksesvol tydens die pandemie aan te bied. Op dié manier kon kunstenaars en deelnemers aan die fees se ontwikkelingsprojekte toegang tot ’n professionele platform vir hul produksies hê. Met die ekonomiese druk wat die Covid-19-pandemie meegebring het, het organiseerders kaartjies teen spesiale afslagtariewe beskikbaar gestel, en daar is ook produksies wat gratis bygewoon kan word.

Vanjaar kan mense uitsien na ’n program propvol produksies uit die boonste rakke, wat wissel van operette, klassieke musiek, drama en jeugteater tot skrywersgesprekke. Kunstenaars wat gehore beslis op hul voete gaan hê, sluit in: Nataniël, Brendon Daniels, Dean Smith, Antoinette Kellermann, Charlton George, Frank Opperman, Lauren Dasappa en Marlo Minnaar.

Die feesprogram is van Dinsdag 1 Maart beskikbaar. Diegene wat die program per e-pos wil ontvang en op hoogte van feesnuus wil bly, kan ’n versoek via e-pos aan suidoosterfees@media24.com rig.

You need to be Logged In to leave a comment.