Die ATKV en die Suidoosterfees nooi weer amateurkore in die Wes-Kaap wat nog harte met hul stemme wil verower.
Inskrywings vir die jaarlikse ATKV-Suidoosterfees-koorkompetisie is nou oop vir sanggroepe en kore wat op plase en in kerke en plaaslike gemeenskappe bedrywig is.
Die sluitingsdatum is Maandag 10 Maart 2025, of sodra die kapasiteit vir die aantal deelnemende kore bereik is.
Kompetisiewenners ontvang trofeë en word genooi om tydens die Suidoosterfees saam met bekende sangsterre op te tree. Vanjaar was die kore wat in verskillende afdelings gewen het, op die feesverhoog saam met Emo Adams, Jodi Jantjies en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor. Hulle was Porterville se Messengers of God (sanggroep), Zolani Jeugkoor van Ashton (gemeenskapskoor) en die Bosman Adams-koor van Wellington (plaaskoor).
Die finaliste word genooi om werksessies by te woon waar hul vaardighede deur kenners in die musiekbedryf verfyn word. Vanjaar is dié slypsessies in Ceres en tydens die Adam Small-fees in Pniël aangebied.
Die ATKV en die Suidoosterfees bied die kompetisie jaarliks aan om volhoubare musiekgeletterdheid en opleiding onder amateurkore en koorleiers te bevorder.
Johan Esterhuizen van die ATKV sê “die koorkompetisie is besonders en ’n hartsprojek wat plaaskore, kerkkore en gemeenskapskore die geleentheid gee om hul talente in die Artscape aan die breër publiek bekend te stel”.
Besoek suidoosterfees.com om in te skyf. Kontak Esterhuizen by johane@atkv.org.za vir meer inligting.