Suidoosterfees op soek na nuwe talent

Die Suidoosterfees se Talentsoektog is nou oop vir inskrywings.


Die Suidoosterfees se Talentsoektog is nou oop vir inskrywings.

Dié gewilde kompetisie, wat reeds vir agt jaar aangebied word, bied kosbare geleenthede vir talentvolle amateurs om raakgesien te word en ’n voet in die deur van die vermaaklikheidsbedryf te kry.

Vanjaar is dit nog makliker om in te skryf. Mense tussen nege en 35 jaar kan deelneem deur ’n video per WhatsApp na 079 906 7359 te stuur. Deelnemers moet hul besonderhede in kort video’s verskaf en hul spesiale talent met ’n optrede demonstreer.

Afdelings waarin deelnemers hul staal kan wys, is sang, dans, instrumentele musiek en skerpskets-komedie.

Die sluitingsdatum is Vrydag 15 November 2024 om 12:00.

Groot geld- en ander pryse is op die spel. Die algehele wenner, wat tydens die Suidoosterfees in 2025 aangekondig word, ontvang R10 000 en ’n uitnodiging om ’n gasverskyning in kykNET se gewilde sepie Suidooster te maak.

Die mees belowende danser wat aan die kompetisie deelneem, kwalifiseer vir ’n beurs om vir ’n jaar aan die Kaapse dansskool Dance for All te studeer. Geldpryse is vir die naaswenners op die spel.

Die kompetisiereëls, asook die bepalings en voorwaardes vir deelname, word op www.suidoosterfees.com uiteengesit. Dit is belangrik vir voornemende deelnemers om dié riglyne op die webwerf te lees en te volg. Onder-18’s se inskrywings moet deur die toestemming van ’n ouer of voog vergesel word.

Oudisievideo’s moet organiseerders teen 15 November bereik, waarna die beoordelaars die semifinaliste sal nooi om werksessies in Kaapstad by te woon om hul vaardighede vir die volgende kompetisierondes te slyp.

Caitlin White, ’n jong sangeres van Delft, is vroeër vanjaar as wenner van die vorige Talentsoektog aangewys. “Caitlin is ’n uitstekende jong sangeres en ons is baie opgewonde om te sien hoe haar uitsonderlike stem in die toekoms geleenthede vir haar gaan open,” sê Jana Hattingh, Suidoosterfees se uitvoerende hoof.

“Ons nooi alle talentvolle amateurs om aan die kompetisie deel te neem en ons mentors staan gereed om finaliste se vaardighede te ontwikkel en af te rond.”

Die Talentsoektog word ondersteun deur die ATKV, Suidooster, Dance for All en die Kaapse gemeenskapspublikasies City Vision, People’s Post en TygerBurger.

Die Suidoosterfees se hoofborge is die nasionale departement van sport, kuns en kultuur; die provinsiale departement van kultuursake en sport; die Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.