Aerolene Griebelaar, ’n ma van twee van Cloetesville en ’n skoonmaker by die US, het verlede week ’n Baccalaureus-graad in Teologie verwerf. Foto: Stefan Els


Aerolene Griebelaar se reis van skoonmaker in die gange van die Universiteit Stellenbosch (US) tot die oorsteek van die verhoog by die gradeplegtigheid is niks minder as inspirerend nie.

Ná jare se fyn voetwerk en bontstaan tussen werk, haar gesin en haar studie, het Griebelaar haar Baccalaureus-graad in Teologie die afgelope Vrydag (13 Desember) ontvang.

Dié ma van twee van Cloeteville moes die afgelope sewe jaar ’n uitmergelende program handhaaf om haar studie te voltooi. As ’n skoonmaker by die US – ’n pos wat sy sedert 2017 beklee – begin haar werksdag om 07:00 en eindig dit om 16:00. Om deur haar akademiese program te kom, het sy ná werk van 18:00 tot 20:00 aanlyn klasse bygewoon.

Haar akademiese reis, gemotiveer deur haar diep belangstelling daarin om geloof en spiritualiteit te verstaan, het begin toe sy vir die US se deeltydse Baccalaureus in Teologie-program ingeskryf het.

“My belangstelling in teologie het op ’n vroeë ouderdom begin. Op 15 het ek ’n roeping gevoel wat my lewe as jong volwassene gevorm het, en ek het besluit om by die Pinksterkerk aan te sluit. Ek het selfstudie beoefen en aktief by kerkgemeenskapsaktiwiteite betrokke geraak – aanvanklik met die oog daarop om ’n maatskaplike werker te word. Daardie planne het egter nie uitgewerk nie,” verduidelik sy.

“Ek is in 2019 oorgeplaas om by die fakulteit teologie te werk. Die dekaan, prof. Reggie Nel, het my genader oor ’n deeltydse program en my aangemoedig om dit te oorweeg om daarvoor aansoek te doen. Dit het my belangstelling geprikkel en ek het besluit om my hand daaraan te waag, en só het ’n nuwe hoofstuk in my reis begin.”

Nel is vol lof vir sy student se sukses. “Ek onthou haar positiewe werksetiek as ’n skoonmaker in die geboue van die teologiese fakulteit. Sy het haar werk met soveel waardigheid en vreugde gedoen. Maar sy het ook daarna gestreef om ’n belangriker rol in die samelewing te vervul. Die feit dat sy reeds voltyds gewerk en ’n lieflike gesin gehad het, het haar nie teruggehou wat haar hoër roeping in die lewe betref nie.”

Volgens Nel was die nuut geïmplementeerde Baccalaureusgraad in Teologie as ’n deeltydse, hibriede program die ideale geleentheid vir Griebelaar aangesien dit ontwerp is om toegang vir ouer potensiële studente te bied. “Sy het die uitnodiging en inisiatief met albei hande en ’n oop hart aangegryp. Wat ons met haar graduering sien, is uitsluitlik aan haar harde werk en deursettingsvermoë te danke. En aangesien sy planne het om verder te studeer, wens ons haar alle sukses toe met die uitlewing van haar roeping. Sy inspireer ons almal. Sy verskuif grense. Sy droom oor en skep nuwe toekomste.”

Griebelaar moes haar studieloopbaan bestuur terwyl sy haar twee kinders – Chelsea Joy (8) en Caleb-Josh (17) – met die onwrikbare ondersteuning van haar man, Charlton, grootgemaak het. Om ’n balans tussen al haar verantwoordelikhede te handhaaf, was egter nie sonder uitdagings nie. Om die eise van ’n voltydse werk, ouerskap en aandklasse te bestuur, het dissipline en deursettingsvermoë vereis.

“Sommige dae was uiters uitdagend, aangesien my twee kinders ook aandag nodig gehad het vir hul skoolwerk. Ek moes ’n manier vind om hulle te help terwyl ek my eie klasse bywoon. Die kombuis het die beste oplossing geword: Ek het my skootrekenaar op die mikrogolfoond geplaas om by die klas aan te sluit, my seun het by die kombuistoonbank gewerk en my dogter het die vrieskas as haar lessenaar gebruik. Dit het my in staat gestel om hulle te help terwyl ek op die gasstoof kook,” onthou sy.

“My man was ongelooflik. Hy het my ondersteun deur die kinders soggens gereed te kry en by die skool af te laai, aangesien ek reeds by die werk was wanneer hulle wakker word. Sommige aande het ek tot 23:00 op kampus gebly om my opdragte te voltooi. Naweke het ek by plekke soos die Jan Mouton-leersentrum of die Teologie-rekenaarlaboratorium deurgebring. Vrye tyd het iets van die verlede geword.”

Benewens die ondersteuning wat sy van haar gesin ontvang het, skryf Griebelaar ook haar sukses toe aan haar vasberadenheid en tydsbestuursvaardighede.

Ondanks die struikelblokke het sy onwankelbaar gebly om haar doelwit te bereik en oomblikke van vreugde en leer deur die hele proses gevind. “Hierdie graad is meer as ’n kwalifikasie. Hierdie reis het my nader aan God gebring. Dit het vir my nuwe wêrelde oopgemaak en my uitkyk op die lewe en myself verbeter. Ek het my identiteit ontdek – wie en wat ek is,” verklap sy trots.

“Ek beskou dit as ’n uitmuntende prestasie en een van die hoogtepunte van my lewe. Om hierdie graad te ontvang, is ’n groot voorreg. Al het dit ’n prys gehad, was dit op die ou einde die moeite werd.”

Griebelaar beplan om op haar pad vorentoe ’n gemeenskapsprojek voort te sit wat sy gedurende haar studiejare begin het. “AG Bemagtiging floreer steeds, en ek werk tans saam met ’n groep jongmense in die gemeenskap om groei en ontwikkeling te bevorder. Ek wil geleenthede in berading ondersoek en ’n praktyk uit my huis bedryf. Hierdie onderneming sal my in staat stel om begrafnisdienste te verskaf en huwelike te voltrek en waardevolle dienste direk aan die gemeenskap te bied,” vertel sy.

“My doelwit sal egter altyd daarop gefokus bly om betekenisvolle bydraes tot die welstand van diegene rondom my te lewer.”

You need to be Logged In to leave a comment.