Stellenbosch is rooi nadat die Hoërskool Stellenbosch Dinsdagaand (21 Februarie) skoonskip gemaak het by die Super 6-atletiek-interskole toe hulle drie uit drie bekers – atletiek, gees, en pompoms – opgeraap het.
Die kompetisie was gedug, en Stellenbosch moes meeding met gerekendes soos Worcester Gimnasium, Charlie Hofmeyr en Jan van Riebeeck ten einde die bekers te verower.
Die dag het reeds Maandag (20 Februarie) op die Hoërskool Stellenbosch se tuisveld met die langer afstande soos die 3 000 m- en 5 000 m-stap begin, waarna dit Dinsdag na Coetzenburg verskuif het. Jan van Riebeeck was vanjaar die gasheerskool wat dit op Coetzenburg aangebied het.
Leerders van die Hoërskool Stellenbosch het ook in verskeie ouderdomsgroep-afdelings koning gekraai.
Die middag- en aandbyeenkoms was voorwaar ’n spoggeleentheid, en die betrokke skole is opgewonde om hierdie interskole-tradisie in die toekoms voort te sit en nog beter bande te smee. Dit was die eerste keer dat ses skole aan die byeenkoms deelgeneem het.