Die verpleegsusters Karen Levy (Khayamandi), Dumokazi Lebudu (Idasvallei), Michelle De Louw (Klapmuts) en Chalene Fortuin (Aan-Het-Pad).


Die Wes-Kaapse regering se departement van gesondheid en welstand het vandeesweek aangekondig hy het leiersposisies by vier van sy klinieke in die Stellenbosch-omgewing met toepaslik gekwalifiseerde kandidate gevul.

“Ons is bly dat ons toegewyde personeel as bedryfsbestuurders kon aanstel. Hul vaardighede en entoesiasme is presies wat nodig is,” sê sr. Denise Johnson, die bestuurder van primêre gesondheidsdienste in Stellenbosch.

Die departement se afdeling vir primêre gesondheidsdienste word aangevoer deur verpleegkundiges met die ondersteuning van dokters.

Bedryfsbestuurders by klinieke bestuur nie net die geriewe nie, maar lewer ook self pasiëntsorg soos die res van hul span.

Die Khayamandi-kliniek se bedryfsbestuurder is die borrelende sr. Karen Levy. Sy het in 1996 as verpleegkundige gekwalifiseer en sê die opregte dankbaarheid van pasiënte spoor haar aan om verpleging te beoefen. Dit is vir haar belangrik om die personeel as ’n span nader aan mekaar te bring en het juis by die kliniek se spanbou-aktiwiteit tyd ingeruim vir ’n foto saam met die ander bedryfsbestuurders.

Sr. Dumokazi Lebudu is die Idasvallei-kliniek se bedryfsbestuurder. “Die gemeenskap het my verwelkom. Hulle is vriendelik en het my dadelik tuis laat voel. Die span by die kliniek is absoluut toegewy aan hul werk en pasiënte,” sê sy. Sy het 12 jaar ervaring in die sak en sê deur verpleging het sy die kans om ’n verskil in ander mense se lewe te maak. “Ek wil graag toesien dat ons hoëgehalte, geïntegreerde gesondheidsdienste bied, en ek wil verseker dat goeie kommunikasie en interaksie altyd tussen personeel, pasiënte en hul families bestaan. ’n Mens bereik dit deur elkeen as ’n individu te beskou. Op hierdie manier kan ons ’n holistiese diens lewer.”

Haar eweknie by die Klapmuts-kliniek, sr. Michelle De Louw, het in haar meer as tien jaar in verpleging ervaring opgedoen in verskeie velde in gesondheid, wat trauma en die bestuur van kroniese siektes insluit. “Ek wil die span graag met begrip lei. Ek wil hê die span moet deur die gemeenskap gerespekteer word omdat hulle met empatie en innovering dien. Ons moet ook ons goeie gewoontes – soos om professioneel aan te trek en trots te wees op wat ons doen – behou,” sê De Louw. Sy wil graag gesondheidsdienste na die gemeenskap neem deur uitreike te bied, soos die een op 13 Julie waar hulle dienste soos die inenting van kinders, ontwurming, swangerskaptoetse, gesinsbeplanning en meer gebied het.

Sr. Chalene Fortuin bring 25 jaar van verpleegervaring na die Aan-Het-Pad-kliniek. Dit is vir haar belangrik dat die kliniek omvattende dienste bied wat spesifiek vir die gemeenskap se behoeftes is. “Ons bemagtig ons mense deur die dienste wat ons bied om eienaarskap van hul gesondheid te neem,” sê sy, en bedank die span wat haar van die begin af verwelkom het.

You need to be Logged In to leave a comment.