Photo for illustration purposes only. Photo: Chris Robert/Unsplash


Die Van der Stel-Evergreens-rugbyklub begin Saterdag (20 April) sy aanslag in Superliga B wanneer hy die gasheer is vir Hamlets van Mamre op die Bergzicht-sportterrein.

Dit is Hamlets se tweede wedstryd in die liga nadat hy Kylemore die afgelope naweek 26-15 geklop het.

Gaan dit Saterdag vir Hamlets ’n geval wees van sy tweede oorwinning oor ’n Stellenbosse span, of gaan Van der Stel-Evergreens (VDE) wil wys dat hy nie spanne gaan toelaat om op tuisbodem oor hom te loop nie?

Die liga het nie op ’n goeie noot vir Kylemore en Franschhoek, die ander buurspan van VDE, in Superliga B begin nie.

Franschhoek het ook op sy tuisveld in Groendal met 26-38 teen Hands & Hearts vasgeval.

In Hearts se vriendskaplike wedstryd teen VDE het hy op sy tuisveld die onderspit gedelf.

Die ervaring van Hamlets in Superliga A en B en sy aanwinste van die Mamre-rugbyklub maak hom die gunsteling in die wedstryd teen VDE, maar op sy tuisveld kan VDE nie sommer afgeskryf word nie.

VDE het ook sy span versterk en die nuwe kombinasies sal Saterdag teen Hamlets getoets word.

Almal is vertroud met die gesegde onbekend is onbemind, en dalk kan VDE dié gesegde gestand doen en Hamlets op die speelveld verras.

Dit was die afgelope Saterdag (13 April) duidelik dat Hamlets en Kylemore dieselfde soort spel speel en dit was net ’n geval van wie sy kanse gaan benut om as oorwinnaars uit die stryd te tree.

Beide spanne was vinnig uit die blokke om die telbord te laat rol en die twee pakke het goed teen mekaar opgeweeg.

Dit was ook duidelik dat die taktiek is om voor sag te maak en dan met die agterlyn te slaan.

In die tweede helfte het albei se woema opgeraak, maar Kylemore het nie sy kanse benut om punte aan te teken nie en dit het hom die wedstryd gekos.

Dié naweek speel Kylemore teen Vineyards, terwyl Franschhoek ’n loslootjie het.

In Superliga C speel Pniël Villagers teen Atlantis op laasgenoemde se tuisveld, nadat sy wedstryd teen die Paarl-rugbyklub die afgelope Saterdag gekanselleer is.

In die Noordelike-liga kon Blakes nie sy ligaverpligtinge teen Stellenbosch-Coronations nakom nie en die derbystryd is gekanselleer.

Blakes pak Gordon’s Bay Pioneers Saterdag.

Corries speel Saterdag in sy tweede derby teen Excelsior, terwyl Raithby Universals besoek van Delft ontvang.

In Delft se wedstryd teen Whistling Wheels het laasgenoemde se spreekwoordelike wiele afgeval toe Delft korte mette met hom gemaak om die wedstryd gemaklik met 21-7 te wen.

You need to be Logged In to leave a comment.