Dit is onaanvaarbaar dat ’n staatsinstelling soos die nasionale departement van binnelandse sake nie aan hul eie vereistes voldoen nie.
Vir ’n instansie wat aan meer as vier dorpe en plase in die Stellenbosch- omgewing ’n basiese diens moet lewer, is dit ’n skande dat mense in sulke lang rye moet staan omdat die nasionale departement onbekwaam is.
Honderde mense staan daagliks in lang rye voor binnelandse sake se kantoor om net die geboortes van pasgebore babas te registreer of hul ID-boek of paspoort te hernu.
Wat nog meer frustrerend is, is die feit dat die minister, dr. Aaron Motsoaledi, se kantoor bewus is van die personeeltekort in Stellenbosch.
Hoe op aarde dink die departement moet hierdie tak optimaal funksioneer met ver minder as die helfte van die personeel wat nodig is? Dit is nie net onregverdig teenoor die publiek nie, maar ook teenoor die personeel wat tans daar werk. Daar word van personeel verwag om dubbel die werk in dieselfde tyd te doen.
Binnelandse sake kan beslis ’n meer doeltreffende diens lewer. Stellenbosch verdien werklik beter dienslewering.
Ons hoop van harte dat daar so gou as moontlik meer mense by die plaaslike kantoor aangestel word sodat die proses vinniger en meer doeltreffend kan geskied – vir almal.