Dit was ’n swart naweek vir rugbyspanne in Stellenbosch en omgewing, want die meeste het hul moses teen hul opponente teëgekom.
Dis net Blue Stars United van Klapmuts wat breëbors kan rondstap, nadat al drie hul spanne as die kampioene van die Suidelike liga gekroon is.
Blue Stars het Young Stars met 59-19 op die Groenpuntbaan geklop.
Die drie Stellenbosse spanne wat in Superliga B meeding – Franschhoek, Kylemore en Van der Stel-Evergreens (VDE) – het al drie Saterdag (6 Julie) op hul baadjie gekry. ’n Onderskepdrie in die doodsnikke deur Yusuf Mohammed, die heelagter van Hamediehs, het die wedstryd tussen dié span en VDE Saterdag op die Bergzicht-sportterrein met 21-31 in die besoekers se guns beklink. In die vier kragmetings tussen die twee spanne kon VDE net een wen.
Niemand kan sê dat die eerstespan-wedstryd ’n saai een was nie, want dit het aan alle verwagtinge voldoen en het vir die grootste deel van die 80 minute wipplank gery. Voordat Mohammed die wedstryd verseël het, was VDE op die aanval, met die telling op 21-28, en het dit gelyk asof die wedstryd gelykop sou eindig, maar Mohammed het ’n stokkie in dié wiel gesteek.
VDE speel die Saterdag (13 Julie) weg teen All Saints in Somerset-Wes, terwyl Hamediehs teen Kylemore in Athlone kragte meet. All Saints het juis ’n loesing van 54-22 van Kraaifontein ontvang en sal Saterdag met ’n verbete aanslag teen VDE kom.
Kraaifontein het nou in die tweede plek agter VDE op die punteleer ingeskuif en die volgende wedstryd tussen dié twee spanne (Saterdag 27 Julie) sal van kardinale belang wees.
VDE, Kraaifontein en Hamediehs loop die paadjie saam van Superliga C en die Kraaie het juis verlede week met Hamediehs afgereken en sal ook dieselfde teen VDE op laasgenoemde se tuisveld wil doen. Kraaifontein het tot dusver een wedstryd minder as VDE gespeel.
Kylemore het met 23-22 teen Belhar en Franschhoek met 43-27 teen Collegians vasgeval. Franschhoek ontvang Saterdag besoek van Bellville, wat met 25-24 teen Hands & Heart verloor het.
In Superliga C het Pniël Villagers ook met 37-20 teen Young Peoples verloor, terwyl Excelsior met 34-19 teen Albions in die Noordelike liga vasgeval het.
Die span van die Dwarsriviervallei reis Saterdag na Surrey Estate om kragte teen Rangers te meet.
Die topnege skop ook Saterdag af, nadat al die ligaverpligtinge van die Noordelike, Suidelike en Stadligas afgehandel is. Dis net Blue Stars United wat die Stellenbosse vlag in die kompetisie gaan laat wapper, nadat Stellenbosch-Coronations, Excelsior, Raithby Universals en Blakes nie die paal gehaal het nie. Hulle sal weer in 2025 in die Noordelike liga meeding.