Sy droom lei hom na Frankryk

Hy sou nooit kon dink dat sy droom om net sy eie fiets te hê daartoe sou lei dat hy eendag oorsee kan reis nie.


Hy sou nooit kon dink dat sy droom om net sy eie fiets te hê daartoe sou lei dat hy eendag oorsee kan reis nie.

Jubian Fredericks van Kylemore, ’n fietswerktuigkundige by Masons Bike Inn in Stellenbosch, vertrek Vrydag 19 Augustus na Frankryk om by die UCI-bergfietsrykampioenskap vir Fietsry Suid-Afrika as ’n fietswerktuigkundige te gaan werk.

Fredericks sê die geleentheid het oor sy pad gekom nadat hy Spook Groene­wald se werktuigkundige vir die Absa Cape Epic was. “Spook het vir my gevra of ek Frankryk toe sou wou gaan. Ek het gedink hy maak ’n grap, maar hy was egter ernstig en het dit later met my bevestig.”

“Ek sou nooit kon dink dat my stokperdjie eendag vir my hierdie geleentheid sou skep nie. Ek is baie opgewonde en dankbaar vir hierdie geleentheid,” sê Fredericks.

Hy vertel dat hy as jong kind nie sy eie fiets gehad het nie en omdat sy ouers dit nie kon bekostig nie, het hy besluit om sy eie fiets te bou. “Ek het ’n vriend, Marido Abrahams – aan wie ek al die suksesse en vaardighede toeskryf – ontmoet toe ek so nege jaar oud was en hy het vir my geleer hoe om fietse reg te maak. Ek het toe ander se fietse begin regmaak en dan by van die mense parte gekry waarmee ek toe my eerste fiets gebou het – dit was nog ’n BMX,” sê hy laggend.

“Ek het so fietse gekoop, reggemaak en weer verkoop totdat ek eendag genoeg geld gemaak het om ’n motor te kon koop.”

Hy vertel dat hy as 13-jarige deeltyds by Masons begin werk het.

“Ek is nou amper 20 jaar in die fietsbedryf. Ek is dankbaar veral vir Marido en my baas Mason, wat oor die jare meer ’n vriend as ’n baas vir my was. Dit is reeds deur Mason dat hierdie geleentheid op my pad gekom het. Ek is dankbaar vir my vrou, kinders, ma en almal wat my deur dié reis ondersteun. Die ondersteu­ning van veral ons kliënte is ongelooflik.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.