Sy het vir die afgelope 40 jaar die winkel in al sy glorie beleef en die veranderings oor die jare gesien en bestuurders sien kom en gaan.
Florina Barends (60) is so sinoniem met Woolworths in die Eikestad-winkelsentrum soos die eikebome in die Eikestad.
Barends het op 20-jarige ouderdom by die kettinggroep begin werk en sê sy is nie een oomblik spyt nie. “Ek het oor die jare baie geleer by Woolworths. Hier het ek as ’n kassier begin en is toe ná ’n maand vloer toe geskuif na die vrouedrag-afdeling toe, daarna het ek ’n senior verkoopsdame in daardie afdeling geword en toe later die oorsiener van die kliëntediensafdeling,” vertel sy.
“Ek kom uit die tyd uit toe ons nog ’n slaghuis gehad het. Ek het al hierdie Woolworths-takke sien kleiner en groter word. Ek was ook hier toe ons van die onderste vloer tot waar ons nou is, getrek het,” voeg Barends by.
Barends vertel dat sy een van die eerste mense by die Stellenbosch-tak was wat vir verdere opleiding gegaan het en dat sy vir talle mense oor die jare ook hier opleiding gegee het. “Ek het vir baie opleiding gegee om die kasregister te gebruik en ook indiensopleiding aangebied vir baie interns wat hier kom werk het.”
Barends sê sy moes vroeg in haar loopbaan ’n groot besluit neem, maar vandag is sy nie spyt sy het daardie besluit gemaak nie. “Ek is vir ’n kort rukkie na Somerset-Wes gestuur vir verdere opleiding en vir ’n hoër pos, maar ek het toe besluit om nie geld na te jaag nie en het toe gevra of hulle my nie eerder weer terug wil plaas nie, want ek wil daar wees vir my gesin.
“Geld is nie alles nie. Ek is nie een oomblik spyt dat ek my familie gekies het nie, my kinders is suksesvol en ek was daar vir elke spesiale oomblik van hul lewe. Baie mense kies om geld na te jaag en dis hoekom huwelike vandag nie uitwerk nie, want die paartjies jaag almal geld na en vergeet van die gesin se behoeftes. Ek is baie dankbaar vir my man wat al die pad daar was vir my,” voeg sy by.
Barends sê sy gaan die klante en haar kollegas baie mis. “Ek gaan almal baie mis, maar ek sien ook uit na die blaaskans wat ek kan kry. Ek wil vir almal wat oor die jare ’n rol in my loopbaan gespeel het, bestuurders, kollegas en veral my man en kinders, baie dankie sê.”