’n Cloetesville-familie treur oor die verlies van hul jongste suster nadat sy op die eerste aand van Ramadan doodgeskiet is.
Volgens haar oudste suster is dit die laaste ding wat hulle verwag het toe haar jongste sus die aand uit die huis is. “Keena het so mooi gelyk in haar wit en blou daardie aand. Sy was so lief vir hom; hulle was vir langer as ’n jaar saam, en blykbaar was haar laaste woorde dat niemand hom moet seermaak nie,” vertel Kashiefa Arnolds.
Wakeenah het saam met Kashiefa en hul twee broers in Cloetesville gewoon. Hul ouers is albei reeds dood en Kashiefa was amptelik haar “Noenie” se voog.
Sy vertel die gesin se baba het vele planne gehad en wou vanjaar terugkeer skool toe om haar matriekjaar te voltooi. “Die lewe was maar moeilik vir haar. Sy was só jonk toe ons ons ouers verloor het, maar ten spyte daarvan wou Keena iets van haarself maak. Sy kon nie goed hoor nie en was in ’n vaardigheidskool in Paarl met my ma se dood. Dit was ’n harde slag vir haar – hulle was baie na aan mekaar aangesien sy die laatlammetjie was. Sy het aanvanklik ophou skoolgaan, maar Keena het gesê ons moet Maandag na ’n plaaslike skool gaan sodat sy kan registreer om haar graad 12 klaar te maak.”
Shahied Arnolds, Keenah se oudste broer, sê sy sus was ’n bobaas-bakker en het planne gehad om ’n sjef te word. “Om eerlik te wees – ek was soms ’n bietjie bang vir haar, want sy kon haar man staan. Maar Vrydag was ons twee alleen en ons het na ‘Jealous of the Angels’ geluister vir die eerste keer in ’n lang ruk. Dat dit daardie liedjie van alles is, is vreemd,” meen Shahied.
Die gesin was Saterdagaand by die huis toe Keenah om die draai na die partytjie is. Later was daar ’n geraas buite en hul niggie het by die huis ingehardloop gekom om te sê Keena is geskiet. “Hier is gereeld ’n skietery hier buite, iets wat aan die gang is, maar ons het dit nie verwag nie. Ek het gehardloop om te gaan kyk en ek het nog nooit só iets gesien nie,” vertel Shahied oor die toneel waar hy sy sussie gevind het.
Die Cloetesville-polisie het bevestig ’n 22-jarige verdagte is in verband met die voorval aangekeer. Volgens AO Zenobia Sedeman, ’n woordvoerder vir die Cloetesville-polisie, word die saak ondersoek. Die verdagte het Dinsdag (4 Maart) in die Stellenbosch-landdroshof verskyn. Sedeman het bevestig die verdagte sal weer op 11 Maart in die hof wees.
“Sy is weggevat van ons – nie net ’n suster nie, maar ’n beste vriendin. In die afgelope dae het ek ’n paar keer gedink ek het haar gefaal, maar dan dink ek hoe sy weggeruk is – geregtigheid moet nou geskied. Ek het vrede gemaak met die feit dat sy weg is, want dit gaan haar nie terugbring nie,” sê Kashiefa. Een vertroosting vir die familie is dat Wakeenah in die heilige maand van Ramadan dood is. Shahied sê hy weet in hierdie heilige tyd is al sy suster se sondes weggewas en sy is reguit Jannah (hemel) toe. Wakeena is Sondag volgens Moslem-gebruik ter ruste gelê.
- Enigeen met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte AO Quentin Williams by 079 894 0188 te bel.