Die statistieke oor geslagsgebaseerde geweld teen vroue en kinders – nasionaal en internasionaal – beeld die hartseer werklikheid uit oor dié sinnelose dade teen hul menswees elke dag.
Bheki Cele, die minister van polisie, het in Augustus die misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van die 2022-’23-boekjaar bekend gemaak. Dit is alles misdade wat tussen April en Junie vanjaar plaasgevind het en aangemeld is. Volgens Cele is ’n afname bespeur in die totale aantal seksuele oortredings, wat insluit verkragting, seksuele aanranding, poging tot seksuele misdrywe en seksuele kontakmisdrywe.
Hoewel ’n “afname” bespeur is in seksuele oortredings wat tussen April en Junie vanjaar aangemeld is, is 9 516 verkragtings by die polisie aangemeld.
“Altesaam 3 780 van die verkragtings het in die huis van die verkragter of die slagoffers plaasgevind. Daarbenewens is 1 546 mense in openbare plekke soos strate, parke en strande verkrag,” het Cele gesê.
In dieselfde tweemaandetydperk is 855 vroue en 243 kinders in Suid-Afrika vermoor.
Cele het bygevoeg: “Die polisie ondersoek klagtes van poging tot moord op meer as 1 400 vroue en kinders wat die dood vrygespring het.”
Nog aangrypende statistieke is dat 15 miljoen nie-volwasse meisies wêreldwyd – tussen 15 en 19 jaar oud – gedwonge seks ervaar het. Dit is volgens die interregeringsorganisasie, die Verenigde Nasies (VN).
Die VN sê ook dat 6% van vroue wêreldwyd aanmeld dat hulle deur iemand anders as hul man of lewensmaat aan seksuele geweld onderwerp is.