“Ek glo nie in myself soos ek behoort te doen nie.”
Met hierdie woorde het die media-persoonlikheid en Namatjent, Lyntjie Jaars, die afgelope naweek die Adam Small fees op Pniël geopen.
Die nalatenskap van die bekende digter Adam Small word jaarliks met dié fees by die Pniël-museum aangebied.
’n Klein gehoor van mense van uiteenlopende agtergronde was teenwoordig. Hulle sit almal gesellig onder een massiewe tent en koffie drink, terwyl die ATKV en Afrikaans.com gereed maak om die ommietafel-gesprek te begin.
René Arendse, die vroue-entrepreneur en konsultant, lei die gesprek tussen die veteraan-joernalis van Rapport, Julian Jansen, en die Oppiestoep-aanbieder, Lyntjie Jaars. Die tema van die gesprek handel oor “Hoe baan jou taal ’n weg tot sukses?”
Jaars, van die Noord-Kaap, vertel dat onderwysers haar gekerf en laat besef het wat sy in die lewe kan bereik. “Ek het twee onderwysers gehad wat baie geplant het in my lewe. In graad vier het die een, Juffrou De Jongh, vir my gesê ek hoort op die verhoog. Iets wat ek nie geglo het nie.
“Toe in graad 10 sê Juffrou Van der Byl vir my, ek hoort vry te wees – nie op ’n skoolbank nie.”
Volgens Jaars was dit die eerste keer dat iemand haar “ordentlik verstaan” het, want sy wou nog altyd vry wees. Dié Namakwalander meen die gemeenskapsradio, NFM, het haar uiteindelik die bevryding gegee.
“NFM het my lewe verander. Toe ek eers agter die mikrofoon inskuif en een met die mens aan die ander kant word – toe weet ek, ek hoort hier.”
Jansen, wat op ’n tyd onderwyser was, het op sy beurt vertel oor hoe sy passie vir skryf begin het.
“Jare terug het ons ’n kerkkoerantjie vir beter kommunikasie tussen die dominee en gemeente gestig. En ek het so elke maand ietsie daarin geskryf. Eendag, iewers in 2004, sien ek toe in Rapport jy kan rubrieke instuur, waarna ek toe my eerste rubriek vir hulle stuur.”
Volgens Jansen was die destydse Kaapse redakteur van Rapport so beïndruk met sy rubriek dat hulle hom toe gevra het om elke maand iets vir die publikasie te skryf. “Kyk, ek het R350 vir elke stuk gekry, en onthou, daai tyd was R350 nog baie, veral vir ’n onderwyser.”
Jansen het later as gevolg van werksomstandighede besluit om die onderwys te verlaat, waarna hy toe genader is om vir Rapport as joernalis te begin werk. Dit was juis as gevolg van sy bedrywighede by Rapport dat hy dit kon regkry om twee boeke te skryf.
Die De Zalze-moorde wat sy eerste boek was, het nou ook internasionale aandag getrek. “Ek het onlangs ’n gewone e-pos uit Zimbabwe ontvang, ek het eers gedink dit is onsin. Maar hulle het my toe agterna gebel en gesê hulle wil ’n fliek skiet oor die boek.”
Die fliek gaan in dele van Amerika en Kaapstad geskiet word.
Hy het ook onlangs Seuns sonder Pa’s bekendgestel, wat die afwesigheid van pa’s in veral bruin gemeenskappe bespreek.
Die gesprek het ’n emosionele trant aangeneem toe Jaars haar hart opmaak oor selfvertroue. “Ek sukkel om myself te glo – om baie eerlik te wees,” het Jaars onthul, terwyl sy ’n traan gestort het. “Ons werk in ’n bedryf wat jou boelie, en mense maak jou seer,” het Jaars vertel.
Sy meen dat haar verskyning op Oppiestoep wat “oorwegend ’n wit program” is, baie mense ontstel het. “Mense wou weet met ‘watter kwota-stelsel KykNET besig is’.”
Jansen het ter afsluiting opkomende skrywers aangemoedig om hul name ernstig op te neem: “Glo en wees lief vir jou naam en van. En bou jou naam vir jouself.”