Universiteit Stellenbosch het ná ‘n verskyning in die hooggeregshof aan AfriForum verseker Afrikaans en Engels sal gelyke status as onderrigtaal hê.

Michelle van der Spuy

Universiteit Stellenbosch (US) moes vandag die knie buig voor ‘n hofaansoek deur AfriForum Jeug en het onderneem om te verseker Afrikaans en Engels geniet gelyke status as onderrigtaal.

Twee fakulteite by die US, regsgeleerheid en ingenieurswese, het onderskeidelik Saterdag 23 en Maandag 25 Januarie aangekondig Engels sal as primêre onderrigtaal gebruik word.

AfriForum het die US kort daarna met regstappe gedreig indien hulle nie verseker word alle fakulteite die universiteit se taalbeleid en -plan sowel as die taalspesifikasies soos in die 2016 Jaarboek gepubliseer, implimenteer nie.

AfriForum het die hofaansoek Vrydag 5 Februarie ingehandig nadat die US geweier het om aan die versoek gehoor te gee.

“Die US het ná vandag se hofverrigtinge skriftelik onderneem om bogenoemde eise na te kom, wat beteken dat AfriForum Jeug se doelwit met die hofaansoek gevolglik bereik is,” lui ‘n inskrywing op hul webwerf.

Bernard Pieterse, AfriForum Jeug se kampuskoördineerder vir Maties, sê die hofuitspraak is “nie slegs ‘n belangrike oorwinning vir die Afrikaanse studente van Stellenbosch nie, maar ook vir die breër Afrikaanssprekende gemeenskap”.

You need to be Logged In to leave a comment.