Deelnemers aan die Stellenbosch-deel van die 2023 Hollard Daredevil Run het vir ’n goeie doel die vroegoggendkoue in hul pers swembroekies getrotseer.

Credit: SYSTEM

Meer as 100 mans het Vrydag 13 Oktober die strate van Stellenbosch vroegoggend ingevaar – geklee in slegs pers swembroekies. Hulle was deel van die jaarlikse Hollard Daredevil Run wat oor die land heen gehou is.

Die 5-km-uitdaging is ’n veldtog en geldinsamelingsgeleentheid vir bewusmaking van kanker by mans. Satellietbyeenkomste is onder meer in die middestad voor die Parlement en in Seepunt, Khayelitsha, Gordonsbaai, Rondebosch, Johannesburg, Pretoria, Durban, Gqeberha en Bloemfontein gehou.

Die plaaslike deelnemers het om 06:00 by die Jan Marais-natuurreservaat in Stellenbosch byeengekom.

Volgens Warwick Bloom, Hollard se hoof van groepbestuur, het hulle gemik om vanjaar se geleentheid die grootste en dapperste nog te maak, en hulle het dié doelwit bereik. “Die Hollard Daredevil Run het sedert sy ontstaan in 2009 ’n landwye verskynsel geword, wat die wenkbroue lig en bewustheid oor prostaat- en testikulêre kanker skep,” het hy verduidelik. “Die geleentheid word elke jaar groter, en ons kan nie trotser wees nie.”

Meer hoërskoolleerders het vanjaar aan die geleentheid deelgeneem, met baie skole en honderde leerders oor die land heen wat ter ondersteuning van die bewusmakingsveldtog spanne opgemaak het.

“Baie mans is dalk onwillig om oor gesondheidskwessies te praat of professionele hulp in te span. Dis om dié rede dat kanker dikwels later of op ’n meer gevorderde stadium by hulle gediagnoseer word,” het Bloom bygevoeg. “Om hierdie kankers vroeg op te spoor en te behandel, beteken ’n beter toekoms vir mans en hul gesinne.”

Die voorspelling is dat prostaatkanker teen 2030 die mees algemene kanker in Suid-Afrika sal wees, met swartmans wat ’n beraamde 60% hoër kans vir prostaatkanker as ander bevolkingsgroepe het. Die oorlewingsyfer in mans by wie prostaatkanker vroeg genoeg gediagnoseer is, is 95%.

Hoewel testikulêre kanker seldsaam is, is dit die mees algemene kanker wat mans tussen die ouderdom van 15 en 35 raak. Die oorlewingsyfer van mans by wie vroeëstadium- testikulêre kanker gediagnoseer word en behandeling ontvang, kan so hoog as 98% wees.

Die opbrengs van die Hollard Daredevil Run gaan na die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) en die Prostaatkanker-stigting van Suid-Afrika, om toetsing in gebiede met ’n gebrek aan hulpbronne te finansier asook om bewustheid, ondersteuning en navorsing te bewerkstellig.

Bloom het albei organisasies vir hul vennootskap met die Hollard Daredevil Run deur die jare bedank. “Dankie dat julle oor die jare dié reis, namate die geleentheid groter geword en verander het, met ons meegemaak het, en vir die ongelooflike werk wat julle doen. Ons is trots dat dié geleentheid só ’n verandering in die lewe van baie mans en hul gesinne kan maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.