Talle kinders gradueer by VGK-nasorgsentrum

Meer as 30 kinders van die VGK Stellenbosch-Cloetesville-nasorgsentrum was verlede Dinsdag (5 Desember) in hul togas uitgevat toe dié instansie ’n gradueringsgeleentheid aangebied het.


Meer as 30 kinders van die VGK Stellenbosch-Cloetesville-nasorgsentrum was verlede Dinsdag (5 Desember) in hul togas uitgevat toe dié instansie ’n gradueringsgeleentheid aangebied het.

Die sentrum is sewe maande gelede weer deur die kerk se Beplannings- en ontwikkelings-komitee van stapel gestuur nadat komiteelede die nood vir só ’n sentrum in die gebied raakgesien het. Altesaam 35 kinders tussen vier en 16 jaar het op weeksdae aan die programme deelgeneem en dit suksesvol voltooi.

Die spoggeleentheid is deur die kinders, hul ouers, omsieners en genooide gaste, insluitend die onderburgemeester, Jeremy Fasser, bygewoon.

Volgens Sonja Adonis, ’n toesighouer en komiteelid, word die kinders daagliks van ’n maaltyd voorsien en met hul huiswerk gehelp. “Hulle word getoets, word met hul leeswerk gehelp, speel speletjies, doen kuns en word aangemoedig om hul kreatiwiteit buite in die sandput te gebruik deur beeldjies te maak,” sê sy.

“Die gradueringsgeleentheid is aangebied om die kinders te bemagtig om aanstaande jaar hul bes te doen en hul skoolwerk met ywerigheid aan te pak. Die vertroue in hulle kan elke kind ’n hupstoot gee en hom of haar goed laat voel.”

vgk cloetesville stellenbosch

Jeremy Fasser, die onderburgemeester van Stellenbosch, oorhandig ’n sertifikaat aan Cay-Lee Adriaanse. Foto: Francois Lombard

Ds. Clive Jacobs het die geleentheid Dinsdag met gebed geopen, waarna die koördineerder, Linda Jacobs, die ouers toegespreek en meer inligting oor die nasorgsentrum gedeel het. Die kinders het ook twee sangitems, “Die Here het my mooi gemaak” en “We are the World”, gelewer voordat Fasser, wat as kind ook tyd by die kerk se destydse nasorg deurgebring het, sertifikate aan die kinders oorhandig het.

“Ons hoop die kinders is deur die onderburgemeester se storie geïnspireer en dat die ouers besef die sentrum is tot voordeel van die kind,” het Adonis gesê.

Sy het bygevoeg indien die sentrum aanstaande jaar die nodige finansiering kry, sal hulle voortgaan om die nasorgsentrum vir kinders van Cloetesville beskikbaar te stel. “Ons kry daagliks navrae van ouers, want hulle voel dat hul kinders hier veilig is,” sê Adonis.

“Ek bedank elkeen wat ’n bydrae tot die sukses van die nasorg lewer, asook die ouers wat ons met hul kinders vertrou. Ook dankie aan die kerk se Beplannings- en ontwikkelings-komitee wat ons die geleentheid gebied het om ons passie te kon uitleef.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.