“Sy was saggeaard, ’n lieflike persoon wat altyd ’n glimlag gehad het. Die vriendelikheid het behoorlik uit haar gestraal.”

Só beskryf Elrese Lindoor haar oorlede tannie Riana “Jana” Lindoor, wie se lewe wreed die aand van Sondag 14 Januarie by haar woning in Eikestraat, Cloetesville, kortgeknip is.

Dié tragedie laat twee volwasse kinders wees en volg slegs vier jaar ná die soortgelyke moord op Lindoor se susterskind, Clarissa (27), op die plaas Nietvoorbij net buite Stellenbosch.

Volgens sers. Zenobia Sedeman, ’n woordvoerder van die Cloetesville-polisie, is die polisie om 20:50 deur ’n klaer oor die voorval ingelig.

“Die polisie het ’n klagte ontvang van iemand wat vermoedelik gesteek is. Met die polisiebeamptes se aankoms op die toneel is hulle deur die klaer na ’n wendyhuis agter op die erf vergesel,” verduidelik sy.

“Toe hulle die deur oopmaak, het die oorledene se kêrel voor haar bebloede liggaam gestaan. Sy het op haar rug gelê en daar was ’n messteekwond in haar nek. Die oorledene is daarna op die toneel dood verklaar.”

Sedeman voeg by dat die kêrel ook steekwonde aan sy lyf gehad het, en dat hy vir behandeling na die Stellenbosch-hospitaal geneem is.

“Die kêrel is Dinsdag 16 Januarie in hegtenis geneem, maar die hof het hom met sy eerste verskyning weens ’n tekort aan ooggetuies vrygelaat,” sê die polisiewoordvoerder.

“Die omstandighede rondom die moord is onbekend, dus rig die polisie ’n pleidooi aan enige ooggetuies om na vore te kom om ’n verklaring af te lê.”

SINNELOSE MOORD

Die 48-jarige Lindoor het langer as sewe jaar as skoonmaker by die Pleinstraat-biblioteek in Stellenbosch-sentraal gewerk en was welbekend in die gemeenskap.

Haar gesin is deur haar sinnelose dood tot stilstand geruk, veral omdat hulle nog herstel ná haar susterskind se moord in 2019.

Swartz skuldig en gevonnis

Eikestadnuus het destyds berig oor die moord op die 27-jarige Clarissa Lindoor, wat skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het, en die hofverrigtinge.

Clarissa is die aand van 14 September 2019 deur haar kêrel, Diaan Swartz (22), vermoor. Sy het 33 wonde aan haar liggaam gehad.

Haar been is gebreek nadat sy met ’n stomp voorwerp geslaan is. Sy het inwendige bloeding gehad, in haar eie bloed verstik en ’n erge kopbesering gehad.

Sy is ure lank gemartel en het geweldig gely. Haar lyding was pynlik.

Swartz is in Oktober 15 jaar tronkstraf vir die moord op Clarissa en vyf jaar vir die poging tot moord op ’n ander inwoner van Nietvoorbij-plaas opgelê.

Twee jaar van die vonnis van vyf jaar sal samelopend met die 15 jaar uitgedien word. Hy is dus effektief 18 jaar tronkstraf opgelê.

“Ons familie was nie bewus van enige onstuimigheid in die verhouding nie; sy het nooit enigiets laat blyk nie. Hulle was byna vier jaar bymekaar en sy was baie lief vir hom,” vertel Elrese.

“Dis vir ons baie seer; ons sukkel om kop of stert hiervan uit te maak, want dis nie die eerste keer dat so ’n wrede tragedie ons familie tref nie. Ons hoop en bid dat geregtigheid sal geskied, want nog twee van ons familie se kinders moet sonder ’n ma die lewe deurmaak.

“Ons kan nie nog ’n familielid so wreed aan die dood afstaan nie – genoeg is genoeg.”

Elrese sê haar tannie het ’n omgeehart gehad en sy het nie geskroom om ander te help nie.

“Sy was ’n baie lieflike en vriendelike persoon en ons almal, veral haar twee kinders, gaan haar baie mis,” sê sy.

“Dis veral baie hartseer, want haar 18-jarige dogter het nou net matriek geslaag. Sy kon nie in daardie blydskap en vreugde deel nie. Haar 29-jarige seun het ook baie seer en sukkel om dit te verwerk.”

EREWAG BY DIENS

’n Begrafnisdiens is Maandagoggend (29 Januarie) by VGK Idasvallei vir Lindoor gehou. Gemeenskapsaktiviste teen geslagsgebaseerde geweld (GBG) het met die kis se aankoms by die kerk ’n erewag voor die ingang gevorm.

Stephanie Heneke van Wings of Love and Hope sê hulle het besluit om die familie te ondersteun en die erewag gevorm om vir oortreders van GBG te wys “genoeg is genoeg”.

“Ons wil vir die familie sê hulle is nie alleen nie – ons sal die oorledene se vlerke en stem wees. GBG is ’n probleem in ons gemeenskappe en gaan gewoonlik gepaard met gesinsgeweld,” sê sy.

“Die slagoffers word deur hul lewensmaats aangerand en dit lei tot moord. Daardie lewensmaats is eintlik die persone wat veiligheid vir die slagoffers moet bied; hulle behoort hulle te beskerm, maar dieselfde persoon word dan die aanvaller, verkragter of moordenaar.”

BEROEP OP POLISIE

Heneke, wat ook by die Cloetesville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) betrokke is, het ’n beroep op die polisie gedoen om ’n deeglike ondersoek te doen sodat die skuldige persoon aan die pen kan ry.

“Dit is verregaande dat ’n verdagte weens ’n tekort aan ooggetuies vrygelaat is,” sê Heneke.

“Ons wil by die ondersoekspan pleit om na die toneel terug te gaan, verklarings van almal op die erf te kry en al die nodige bewyse in daardie woning te kry. Ons wil ook ander GBG-slagoffers aanspoor en sê: Wanneer daardie eerste klap val, staan op vir jouself. Jy kan net beskerm word as jy uitpraat.”

Die GPF-voorsitter, Abie September, het ook die begrafnis bygewoon en deel gevorm van die erewag.

Hy het nie vir Lindoor geken nie, maar het ’n uur voor die moord by mense op dieselfde erf gekuier.

“Ek was geskok om op pad na my huis van die moord te hoor. Dit het my tot stilstand geruk, want ek het haar in die verbygang nog gegroet,” vertel hy.

“Dit is hartverskeurend dat ’n jong vrou, ’n ma van twee kinders, só wreed vermoor is. Daardie twee kinders is nou wees.

“Ek wil paartjies maan om nie die pad van geweld in onstuimigheid te kies nie; loop eerder weg van die verhouding en bou ’n nuwe lewe op.”

Gemeenskapsaktiviste teen geslagsgebaseerde geweld vorm Maandagoggend ’n erewag vir die kis van die oorledene. Links voor staan Stephanie Heneke van Wings of Love and Hope en regs is Abie September, voorsitter van die Cloetesville-GPF.Foto: Tasmin Cupido

Elna Lindoor, ’n lid van die StellSorg GBG-eenheid, sê hul lede het die begrafnis bygewoon om ondersteuning aan die familie te bied.

“Jana is een van die slagoffers wat weens geweld met hul lewe moes boet. As StellSorg ondersteun ons GBG-slagoffers in ons gemeenskappe en ons spoor mense aan wat onder dié geweld gebuk gaan om die kantoor by 021 887 2816 te skakel vir ondersteuning.”

Xoliswa Mdemka, voorsitter van die Stellenbosch-tak van die DA-vrouenetwerk, was ook teenwoordig.

“Ek is hier om my ondersteuning aan die erewag teen GBG te bied. Mans moenie vroue vermoor nie, hulle moet hulle lief hê,” sê sy.

“Wat hier geskied het, is heeltemal onaanvaarbaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.