Talyah Greyling en Jeanne-Marie Minnie, matrikulante aan die Hoër Meisieskool Bloemhof, het Dinsdagaand 8 Oktober met die twee gesogste pryse by die skool se jaarlikse prysuitdeling weggestap.
Talyah is die wenner van die Elize Coetzee-prys, wat ’n studiebeurs van R20 000 insluit en na ’n voormalige skoolhoof vernoem is. Dié prys is deur wyle dr. en mev. Anton Rupert geskenk en word jaarliks aan ’n leerder toegeken wat behalwe vir buitengewone akademiese prestasie ook ’n goeie leier is en met goeie inbors, lojaliteit en inisiatief optree.
Jeanne-Marie het die Bloemhofbondprys ontvang. Dit word aan ’n leerder toegeken wat entoesiasme vir die skool se tradisies toon, ’n aktiewe rol in die skool speel, haar klasmaats aanmoedig om by skoolgeleenthede betrokke te raak en die Bloemhof-waardes van omgee, werksetiek, afgerondheid, respek en integriteit uitleef. Die prys bestaan uit ’n wisseltrofee, ’n silwer armband en erelidmaatskap van die Bloemhof-bond, die skool se oudleerdervereniging.
“Dié prys is nie bloot ’n prys vir ’n eenmalige prestasie nie, maar ’n erkenning van ’n entoesiastiese en lojale lewenswyse. Die Bloemhof-bond is trots om met Jeanne-Marie geassosieer te word,” sê Maryna de Waal, skakelbeampte van die Bloemhof-bond.
Danielle Louw en Alet Müller, oudleerders wat verlede jaar uitmuntend in die nasionale seniorsertifikaateksamen presteer het, is ook vir hul gesonde werksetiek vereer. Danielle is 2018 se Dux-leerling en het die PricewaterhouseCoopers Dux-medalje ontvang.
Ander pryswenners op die gebied van sport, kultuur, leierskap en gemeenskapsdiens wat spesiale pryse ontvang het, is: Christine Kruger (junior sportvrou van die jaar), Anneken Viljoen (senior sportvrou van die jaar), Cimón van der Westhuizen (veelsydigste sportvrou), Nicole Robinson (beste buitesportprestasie deur ’n junior), Anje Dercksen (beste buitesportprestasie deur ’n senior), Emma Bekker (beste sportmangees), Carla Müller (kultuurbeker vir veelsydigste leerder), Mienja Strauss (kultuurbeker vir uitsonderlike kultuurprestasie deur ’n junior), Vitske van Zyl (kultuurbeker vir uitsonderlike kultuurprestasie deur ’n senior), Inge Smit en Michelle Steyn (Liza Midgley-trofee vir erekleure in akademie, sport en kultuur oor ’n tydperk van vyf jaar), Beatri Cloete (Milly King-wisseltrofee vir gemeenskapsdiens), Denike le Roux (Le Roux-wisseltrofee vir leierskap in Huis Bloemhof), Jessica Hess (junior skoolburger van die jaar) en Katryn Groenewald (senior skoolburger van die jaar).