Tannie Annie Geldenhuys (foto), ‘n inwoner van die ACVV Azaleahof-tehuis, het Saterdag 24 Mei haar 104de verjaarsdag gevier. Vriende en familie het die verjaarsdagmeisie met vreugde en liefde omhels en die vierings het ‘n middagete by Post Card ingesluit. Geldenhuys is in 1921 in Napier in die Overberg gebore, waar sy skool voltooi het. Ná skool is sy na Kimberley in die Noord-Kaap om verder in verpleging – haar groot belangsteling – te studeer. Geldenhuys se beroepspad het haar ook na Distrik Ses in Kaapstad en Oos-London in die Oos-Kaap geneem. Ná haar pa se afsterwe het sy en haar ma na Stellenbosch verhuis. Hier het Tannie Annie by die Stellenbosch-hospitaal gewerk – eers in die algemene saal en later het sy en van die dokters die inisiatief geneem om ‘n kraamsaal by die plaaslike gesondheidsfasilitiet te vestig. Siertske van Wyk, ‘n mede-inwoner van Azaleahof, sê “juffrou Annie” is ‘n inspirasie vir die tehuis se inwoners en personeel. “Juffrou Annie, ons eer jou vriendskap, hartlike glimlag, medelewendheid en lewenslus,” sê Van Wyk.
You must be logged in to post a comment.