Of hulle nou 90 of 99 jaar oud is – die bejaarde inwoners van Langverwag-tehuis in Stellenbosch se harte klop warm en hul hande bly besig.
Een van hulle is tannie Nel Treurnicht, wat vandag (Donderdag 7 Maart) haar 99ste verjaardag vier. Sy is sedert 2017 ’n inwoner van Langverwag en gebruik nou haar goue jare om ’n bietjie blydskap vir kleintjies te bring.
Tannie Nel se voorliefde vir brei en deelname aan breiprojekte het uitgebrei en sy kan met reg die moeder van troosbeertjies genoem word – Ta-Nel se Troosbeertjies.
Dit het begin met die Tygerbeer-projek vir die Tygerberg-kinderhospitaal, maar deesdae word die beertjies die helfte kleiner sodat die mediese studente dit in hul oorjasse se sakke kan hou en uitdeel om siek kinders te troos.
Tannie Nel se beertjies gaan ook na traumasentrums om getraumatiseerde kinders te troos. Elke beertjie word met ’n gebed in die hart gebrei sodat die kind wat dit kry, troos sal vind. Die beertjies is ook stylvol, want hoewel hulle meestal “beer”-kleur is, dra elkeen ’n bont serpie.
Verskeie mense word betrek by die maak van die gebreide beertjies – van die bere en hul serpies tot die vaswerk van hul nate om gestop te word en die uiteindelike maak van gesiggies.
Tannie Nel het ook al van die personeel by Langverwag geïnspireer om betrokke te raak. Sy en haar helpers het al ongeveer 90 beertjies gebrei sedert sy die projek verlede jaar begin het.
Die 90-jarige Joey du Preez (90) woon sedert 2018 by Langverwag. Brei is ook ’n passie vir haar.
In Uitenhage, van waar sy oorspronklik is, was sy vir baie jare deel van die kerk se projek om musse vir seemanne te brei. By Langverwag het sy die tradisie voortgesit en brei nou wolmussies vir kinders.
In die somer word ’n goeie voorraad opgebou wat dan in die winter versprei word na ander projekte in die Wes-Kaap waar behoeftige kinders versorg word. Saam met haar help ’n span by Langverwag met die wegwerk van drade en vaswerk van die mussies.
Sy brei al langer as twee jaar gemiddeld 50 mussies per maand, wat ’n groot verskil in so baie kinders se lewe maak.
- Die breiers sal bydraes of skenkings van ongebruikte of oorskiet-wol waardeer.Skenkings kan by Langverwag afgegee word. Kontak Heloïse Burger by 083 489 8174.