Die lewe van ’n jong ma van die Lanquedoc-gebied in Groot Drakenstein het die afgelope naweek ’n tragiese knou gekry toe haar baba deur ’n taxi uit haar arms geslinger en doodgery is.
Volgens AO Gavin Lombaard, speurhoof by die Groot Drakenstein-polisie, het die voorval Saterdagmiddag (7 Oktober) omstreeks 17:00 gebeur.
“Die ma het verduidelik dat sy en haar kind op die regterkantse sypaadjie gestap het, in die rigting na Lanquedoc, toe die taxi uit die teenoorgestelde rigting gery en die ma en die kind getref het. Enkele oomblikke daarna het die 22-jarige vrou op die grond wakkergeskrik en gesien haar kind lê sowat agt meter weg van haar.”
Die een jaar en agt maande oue babaseuntjie is op slag dood. Kort ná die voorval was daar ’n woede-uitbarsting onder inwoners oor wat gebeur het en die bestuurder van die taxi is aangeval. Die taxi is ook op die toneel aan die brand gesteek.
“Een mens is in hegtenis geneem weens die oproerigheid ná die ongeluk, en niemand is in hegtenis geneem vir die taxi se brandstigting nie.”
Lombaard sê die vermoede is dat die taxibestuurder tydens die ongeluk onder die invloed was. Intussen is klagtes van strafbare manslag en dronkbestuur teen die 32-jarige man, wat die taxi bestuur het, aangemeld. Hy het Maandag (9 Oktober) in die Franschhoek-hof verskyn.
Lombaard voeg by die saak sal hervat sal word sodra die polisie die nodige inligting van die laboratorium ontvang.