’n Eenvoudige en kostedoeltreffende vroeëpasiënt-interaksieproses kan help verseker dat Suid-Afrikaners by wie TB in hospitale gediagnoseer word, voortgesette sorg ontvang nadat hulle na klinieke vir TB-behandeling en vir registrasie in plaaslike behandelingsregisters verwys is.
So ’n proses is veral belangrik in ’n ’n land met ’n hoë TB-lading en waar sowat 20% van gediagnoseerde pasiënte in Kaapstad byvoorbeeld nie op ’n betroubare wyse in die nasionale TB-behandelingsregister ingesluit is en dikwels nie suksesvol met klinieke vir behandeling in verbinding geplaas is nie.
Dít is volgens ’n nuwe studie wat deur navorsers van die Desmond Tutu TB-sentrum aan die Universiteit Stellenbosch onderneem is.
Dié studie, “Early interactions with newly diagnosed TB patients in hospital can support linkage to care”, is onlangs in die eweknie-beoordeelde, ooptoegang-tydskrif Public Health Action gepubliseer.
Dit het onder meer behels dat die navorsers ’n vroeë interaksieproses in werking gestel het vir volwassenes by wie TB tussen Augustus 2020 en Maart 2021 in ’n distrikshospitaal in Kaapstad gediagnoseer is.
Dié pasiënt-interaksieproses, wat daarop gefokus het om pasiënte se kontakbesonderhede by te werk, het praktiese inligting verskaf en die pasiënte die geleentheid gegee om vrae te stel. Dit het ook ten doel gehad om pasiënte se gesondheidsuitkomste te verbeter.
Navorsers kon pasiënte se kontakbesonderhede deur die interaksieproses bevestig, TB- en gesondheidsinligting verskaf, inligting oor toegang tot sorg by klinieke oordra en pasiënte se vrae in hul huistaal beantwoord.
Die navorsers wys daarop dat die versuim in Suid-Afrika om individue by wie TB gediagnoseer is, in verbinding met sorgdienste te plaas, steeds ’n belangrike tekortkoming in die TB-sorg-kaskade is.
“Vergeleke met mense wat by primêre gesondheidsorgfasiliteite (PGS-fasiliteite) gediagnoseer word, het mense wat in hospitale gediagnoseer word, gewoonlik bykomende steun nodig om in verbinding met PGS-dienste vir TB geplaas te word. Daar is egter ’n kleiner moontlikheid dat diegene wat in hospitale gediagnoseer word, geregistreer sal word óf in verbinding met sorgdienste geplaas sal word. ’n Vorige studie het getoon dat 85% van pasiënte in Kaapstad wat sterf nadat hulle nie toegang tot sorg bekom het nie, in hospitale gediagnoseer is. Dit beteken vroeë ingryping in hierdie stadium is van deurslaggewende belang.
“Ons het gevind dat die kontakbesonderhede van die meeste pasiënte op lêer onvoldoende was en die interaksieproses het tot bygewerkte inligting gelei. Die insameling van bygewerkte kontakbesonderhede het beteken dat akkurate inligting oorgedra kon word aan PGS-fasiliteite, gemeenskapsgesondheidswerkers en ander openbare gesondheidsinisiatiewe soos kontaknaspoorders, om pasiënte op te spoor nadat hulle ontslaan is en hulle te help om die nodige sorg te bekom.
“Pasiënte het die geleentheid waardeer om meer oor hul diagnose te leer en vrae te vra. Die interaksie het ook aan hulle ’n mate van outonomie gebied om besluite oor hul gesondheid te neem, onder meer waar om toegang tot TB-behandeling te kry. Hulle het praktiese en gesondheidsinligting in hul huistaal verwelkom.
“Die implementering van dié stap-tot-stap-proses kan pasiënte help om hul diagnose beter te verstaan en hulle in staat stel om hul eie gesondheid beter te bestuur, wat in ooreenstemming is met die pasiëntgesentreerde sorgbenadering wat in die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se End TB-strategie voorgestel word,” voeg die navorsers by.
Hulle sê die implementering van ’n pasiënt-interaksieproses as deel van roetinesorg is ’n lewensvatbare strategie om die vroeë inisiëring en registrasie van TB te fasiliteer, asook om pasiënte wat in hospitale gediagnoseer word, in verbinding met sorgdienste te plaas.
“Afskoon die implementering van gedetailleerde en omvattende pasiënt-interaksieprogramme veelvuldige voordele inhou, kan sulke programme arbeidsintensief en tydrowend wees.
“As ’n vroeë interaksieproses deel van die pasiënt-ontslagproses kan uitmaak en personeel gebruik kan word wat reeds by die ontslag betrokke is, sal hierdie proses kostedoeltreffend gemaak kan word en tyd bespaar word. Dit sal egter bygewerkte en beskikbare data oor TB-diagnoses verg.”
Die navorsers benadruk die behoefte aan toekomstige studies wat die redes vir die vertraging in die verbinding met sorg kan ondersoek, asook kan evalueer hoe laekoste-interaksies mense kan help by wie TB onlangs in ’n hospitaal gediagnoseer is, maar nie binne 30 dae ná ontslag met sorg by ’n PGS-fasiliteit verbind is nie. Hulle meen daar is boonop ’n behoefte aan groter bewustheid van TB-simptome en dat pasiënte in staat sal wees om so gou moontlik gesondheidshulp te soek.. Die studie is deur die Bill & Melinda Gates-stigting ondersteun.