Wessel Pretorius is eersdaags in Die Ontelbare 48 in Stellenbosch te sien.

Credit: SYSTEM

Die Ontelbare 48, ’n eenmanstuk uit die pen van Wessel Pretorius, maak aanstaande maand ’n draai by die US Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch.

Dié teaterstuk is die tweede aanbieding in die Adam Small-teaterprojek wat vroeër vanjaar as deel van teaterherlewing in dié dorp ingelui is.

Die Ontelbare 48 het reeds vier Fiësta-benoemings, insluitend beste produksie, ontvang. Pretorius, wat die regie, teks en vervaardiging van die stuk behartig, het in 2015 die Afrikaans Onbeperk-prys vir ’n jong stem gewen. Hy het ook vier Fiesta-toekennings en die Woordtrofeë vir beste dramaproduksie vir sy solostuk, Ont-, ontvang. Ont- is later deur Hennie van Greunen vertaal as Undone en het na die Fringefees in Edinburg, Afrovibes in Nederland, die Wiener Festwochen in Wene en die Nasionale Kunstefees in Grahamstad getoer, waar dit die Standard Bank Ovation (goud) gekry het.

Pretorius het ook die teaterstukke Waterpas, wat ’n Kanna-toekenning vir beste komedie ontvang het; Die dag is bros, wat vyf Fiësta-benoemings en die ATKV-Woordveertjie vir beste drama gewen het; Sandton City Grootdoop, Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistof trilogie, I love You Sally Field (and other stories) en Renaissance geskryf.

In Die Ontelbare 48 is dit Woensdagaand op ’n klein plattelandse dorpie in die Laeveld. Die skoolsaal word ingerig vir die maandelikse fliekaand. Altesaam 48 dorpenaars vergader, elkeen met sy eie storie, om The Sound of Music te kyk. Tussen hulle sit ’n moordenaar met ’n sluwe plan.

“Dit is ’n mikrokosmiese blik op die alledaagse menslikheid wat ons almal – ongeag hoe anders ons dink of leef – eindelik saambind. [Dit is] ’n satiriese drama wat die mens se uithouvermoë vier,” vertel Pretorius.

Die stuk het vier karakters: ’n gefrustreerde hokkie-afrigter en ma, ’n hoërskoolseun wat bewus word van sy gay-seksualiteit, ’n drama-afrigter en ’n meisietjie van vyf.

Die Ontelbare 48 is van Dinsdag 12 tot Saterdag 16 September by die US Adam Small-teaterkompleks op die planke. Kaartjies is aanlyn by Quicket teen R100 per persoon beskikbaar. Die teaterstuk het ’n onder-13 ouderdomsbeperking.

You need to be Logged In to leave a comment.