Inwoners van Cloetesville en Klapmuts het die afgelope Sondag ’n High Tea with a Difference vir drie gemeenskapswerkers wat later vanjaar na Doebai reis, aangebied.
“Hierdie was nie ’n gewone geselligheid nie; dit was anders, want die gemeenskap het hierdie keer iets vir gemeenskapswerkers gedoen,” het Sonja Adonis, een van die begunstigdes van die saamtrek, gesê.
“Die inisiatief was om erkenning te gee aan ons wat die gemeenskap dien. Ons het altesaam 17 tafels, elkeen met sy eie tema en gasvrou, gehad. Die gasvrou moes die tafel koördineer deur toe te sien dat elkeen sy bydrae na die tafel bring,” voeg sy by.
Vroue van Cloetesville, Idasvallei, Klapmuts, Eersterivier, Mitchells Plain, Elsenburg, Khayamandi, Athlone en Vlottenburg het die geselligheid bygewoon.
Adonis sê die gemeenskap het gewys hulle waardeer wat gemeenskapswerkers en vrywilligers in al die gemeenskappe doen.
Sy sê sy is trots daarop om Suid-Afrika saam met haar mede-gemeenskapswerkers – Jahan Daniels en Shumeez Scott – in Doebai te gaan verteenwoordig.
Dié drie gemeenskapswerkers is onderskeidelik in 2019 in die Magnificent Woman International- (MWI) en Magnificent Men International- (MMI) asook MWI Phenomenal International- (MWIPI) kompetisie gekies om Suid-Afrika in Las Vegas te gaan verteenwoordig.
Adonis is as MWI gekroon, Daniels as MMI en Scott as MWIPI.
“Ons kon ongelukkig weens covid nie na Las Vegas gaan nie, maar gelukkig is ons al drie weer vanjaar gekies vir die werk wat ons doen. So, nou gaan ons Doebai toe,” voeg sy by.
Adonis sê hulle reis in Augustus na Doebai waar hulle verskeie uitreikprogramme gaan meemaak om om die wêreldtitel mee te ding.
“Ek en Johan bedryf ’n organisasie, S&J Community Projects, waarmee ons deur die jaar in die gemeenskappe werk. Dit gaan nie vir ons oor die toekennings nie, maar oor die mense wat ons dien.”