’n Lugfoto van die varkplaas in die Papegaaiberg-natuurreservaat.Foto:


Verteenwoordigers van die Onder-Papegaaiberg-woonbuurt ontmoet môreoggend (Donderdag 12 Oktober) met Anton Bredell, die LUR van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, om hul kommernisse oor die toestand en veiligheid van die Papegaaiberg-natuurreservaat ter tafel te lê.

Die vergadering volg ná meer as 50 inwoners van die woonbuurt Dinsdag 12 September ’n versoekskrif aan Geraldine Mettler, die Stellenbosch munisipale bestuurder, tydens ’n byeenkoms by die munisipale kantoor oorhandig het (“‘Help red Papegaaiberg-reservaat’”, Eikestadnuus, 14 September).

Volgens Karin Coetzee, een van die organiseerders van die optog, versoek die bekommerde inwoners dat daar werk gemaak word van die “dreigende vernietiging van die natuurreservaat”. “Dit is ’n skreiende skande dat mense nie die reservaat kan gebruik nie, omdat dit te gevaarlik is om te betree,” het sy gesê.

Inwoners se bekommernisse is, onder meer, onwettige plakkershutte en twee nuwe varkplase binne die reservaat se grens, die feit dat die oorspronklike geproklameerde grense van die natuurreservaat glo nie meer bestaan nie, inwoners van die plakkerskamp wat glo met troppe honde jag, honde wat mense na bewering aanval, gate in die reservaatheining, en plaasdiere wat in die reservaat rondloop en wei.

Coetzee sê daar in die versoekskrif versoek dat die munisipaliteit ’n vergadering voor Vrydag 27 Oktober met owerhede gereël word.

“Ons is baie dankbaar dat die minister ook omgee wat met die reservaat gebeur en bereid is om tyd af te staan om die vergadering by te woon en te help om oplossings te kry vir die toestand waarin die reservaat verkeer,” sê Coetzee.

“Die natuur en beskermde plantspesies word vernietig, daar is erge waterbesoedeling, bourommel word gestort en diere word in die reservaat gejag en op wrede maniere doodgemaak deur troppe honde. Verskeie munisipale regulasies word oortree met die varkplaas wat in die reservaat toegelaat is en misdaad is a probleem. Dit is tans nie veilig vir enige persoon om die reservaat te betree nie.”

Coetzee sê hulle is teleurgesteld dat net ’n handjievol inwoners die vergadering met Bredell mag bywoon en dat hulle gehoop het die LUR sou aan die gebied besoek aflê om eerstehands die situasie te ervaar. ’n Aanlyn-petisie ter ondersteuning van die inwoners het reeds meer as 8 200 handtekeninge, en belanghebbendes word aangemoedig om hul stem by die petisie te voeg.

“Ons is bekommerd dat minister Bredell nie weet hoe die situasie in die reservaat tans lyk nie en het gehoop dat hy self sal kom kyk,” aldus Coetzee. “Hopelik sal ons almal saamwerk om oplossings te vind en die voorstelle in die petisie word aanvaar om die reservaat te beveilig sodat alle inwoners dit kan geniet. Ons benodig asseblief nog ondersteuning van die petisie.”

Kliek hier om die petisie te ondersteun.

Skandeer dié OR-kode om na die aanlyn-petisie te gaan.Foto:

You need to be Logged In to leave a comment.