Niks is te veel moeite vir die terapeute by die Stellenbosch-hospitaal nie – selfs al beteken dit saam kruip en hardloop om kinders se ontwikkeling te bevorder.
Die terapeute het vroeër vanjaar weer begin met ondersteuningsgroepe – ’n stimulerende-omgewing vir die kinders en plek van samesyn vir die ouers.
Op ’n dag wat uitgesit is vir afsprake met ouers met kinders met Downsindroom, is die spraakterapeut Sunica Hamman en die arbeidsterapeut Lisé du Plessis op die mat en op die gras by hul jong pasiëntjies. Speel-speel word kinders geleer om sekere gebeure te verwag, om verbaal te kenne te gee as hulle wil aanbeweeg na ’n volgende aktiwiteit, om takies wat hulle gedoen het te onthou, instruksies te volg en ander maats ook ’n kans te gee.
Daar is ’n groot behoefte aan skole wat inklusiewe onderrig bied. Met die ondersteuning van rehabilitasiedienste soos wat Hamman en Du Plessis bied, kry kinders met Downsindroom ekstra stimulering om hul ontwikkeling te bevorder. Terselfdertyd gee hulle die ouers leiding oor die tipe spel en aktiwiteite wat hulle tuis kan doen om te bou op dit wat in terapie geleer word.
Ondersteuningsgroepe soos dié aan gesinne met kinders met Downsindroom is aan die begin van die Covid-19-pandemie gestaak, maar is vroeër vanjaar hervat. Terwyl die kinders die kollig geniet by byeenkomste wat elke tweede maand plaasvind, kry ouers of versorgers ook die kans om hul ervarings met mekaar te deel en mylpale saam te vier.
Danielle Dreyer se dogter, Cassidy, het nog net drie keer by die groep ingeskakel, en sy sien reeds ’n groot verskil in haar kind. “Sy is die enigste kind in my en my man se families wat Downsindroom het, so dis alles onbekend vir ons,” het Dreyer gesê.
Wanneer sy kan, kom sy saam met Cassidy se dagmoeder om deel te wees van die sessies. “Dit is wonderlik wat hulle hier doen!”
Hamman sê die eenjarige Cassidy se vordering is ’n goeie voorbeeld van wat moontlik is wanneer vroeg ingetree word met ondersteuning. Die eerste 1 000 dae van ’n kind se lewe (die tyd van bevrugting tot die tweede verjaardag) is ’n venstertydperk waarin die meeste ontwikkeling plaasvind. Wanneer ondersteuning beskikbaar is, soos vir Cassidy, het sy die kans om haar volle potensiaal te bereik.
Alle kinders het liefde, aandag, sorg en ondersteuning nodig om te floreer. Terapie soos arbeids- en spraakterapie help kinders met Downsindroom om belangrike ontwikkelingsmylpale soos hul maats te bereik.
“Ons kinders is ook mense in eie reg,” sê Linda Goldstein. Haar seun, Danté, is vyf jaar oud en sy is bekommerd oor wat die toekoms inhou wat skoolgaan betref. Sy is egter dankbaar vir die ondersteuning wat sy by Stellenbosch-hospitaal kry. “Hier by die ondersteuningsgroep is ons soos ’n gesinnetjie!”
Hamman vertel dat die groep ’n veilige ruimte skep vir gesinne wat dikwels ’n moeilike pad gestap het. Een vrou se baba is in Kaapstad gebore, waar Downsindroom bevestig is. Van daar is sy en die baba verwys na nog ’n hospitaal vir verdere sorg, en uiteindelik na Stellenbosch-hospitaal – ’n tydperk van drie maande waarop die gesin nie voorbereid was die dag toe sy ingegaan het om geboorte te skenk nie. Die ma en baba was ver van die ondersteuning van die naaste familie, en sy moes leer oor Downsindroom en hoe om haar baba te ondersteun.
“Ons is baie trots op spanne soos Sunica en Lisé, wat dadelik die geleentheid aangegryp het om hierdie diens te hervat. Wanneer ons in kinders se gesondheid en ontwikkeling belê, het hulle ’n beter kans om gesonde volwassenes te wees wat gesonde gesinne kan koester,” het Handri Liebenberg, direkteur vir die provinsiale gesondheidsdepartement in die Kaapse Wynland-distrik, gesê.
Ouers en versorgers word aangemoedig om enige vrae of kommer wat hulle oor kinders se ontwikkeling het, met hul gesondheidswerker te bespreek. Ouers kan deur hul kliniek of hospitaal kontak maak met ondersteuningsgroepe soos dié by die Stellenbosch-hospitaal. Kinders se Road to Health-boekie bevat belangrike inligting oor al die mylpale en dienste.