Terroir-trofee na Alto

Die gesogte SA Terroir-trofee vir die top-wyn uit al die inskrywings van alle style en kultivars is vanjaar aan ’n vyf jaar oue cabernet sauvignon uit Stellenbosch toegeken – die Alto Cabernet Sauvignon 2018.


Die gesogte SA Terroir-trofee vir die top-wyn uit al die inskrywings van alle style en kultivars is vanjaar aan ’n vyf jaar oue cabernet sauvignon uit Stellenbosch toegeken – die Alto Cabernet Sauvignon 2018.

Dié landgoedwyn is as die algehele wenner aangewys uit die 264 wyne wat vir die eksklusiewe SA Terroir-wyntoekennings beoordeel is. Vanjaar se top- presteerder met die meeste hoëgehalte inskrywings is Rietvallei-landgoed in Robertson, wat ook die meeste top-landgoed-geprodu­seerde wyne opgelewer het.

Rietvallei het nie net die SA Terroir Trofee vir die top-pro­du­sent verower nie, maar ook die derde jaar agtereenvolgens met die trofee vir die top-landgoed weggestap. Hulle het twee nasionale wenners opgelewer, naamlik die Rietvallei JMB Cabernet Franc 2019 en die top- rooi versnit, die Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon/Cabernet Franc 2019, asook ses terreinwenners in die Robertson-distrik.

Terselfdertyd kom vanjaar se top-enkelwingerdwyn uit die Elgin-wynterrein in die Elgin-distrik – ’n houtverouderde chardonnay. ’n Enkelwingerdwyn is die mees ware uitbeelding van ’n terrein-gedrewe wyn uit ’n spesifieke grond en klimaat. Altesaam 66 enkelwingerdwyne is vanjaar beoordeel en die SA Terroir-trofee vir die top- enkelwingerdwyn is aan die Almenkerk Chardonnay 2020 toegeken.

Dat die unieke Kaapse wynland wêreldwyd met die mees veelsydige topgehalte wynterreine kan pronk, is vanjaar weer eens by die 18de SA Terroir-wyntoekennings beklemtoon.

Die SA Terroir-trofee vir die top-terrein is aan die Malmesbury-wyk in die Swartland toegeken.

“Die diversiteit van ons wyngebiede is weer eens by vanjaar se SA Terroir-wyntoekennings bewys,” sê Christo Pienaar, voorsitter van die Suid-Afrikaanse nasionale wynskouvereniging.

“Gehalte is die hooftema van beoordeling en dit is insiggewend om elke jaar te sien watter terreine uit hierdie baie spesiale wynland die beste van watter kultivar en styl lewer.”

Altesaam 35 wyne het top-punte behaal om as nasionale wenners aangewys te word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.