Die wenner van die SJ Community Hearts se skole-beursprogram is die afgelope naweek, ná ’n uitgebreide en strawwe proses, op ’n glansgeleentheid in Stellenbosch aangewys.
Meer as 60 mense, insluitend die sewe finaliste en uitgenooide gaste, het die geleentheid bygewoon.
Sewe finaliste van verskillende skole in die Stellenbosch-omgewing is in die keuringsproses aangewys.
“Ons het ongeveer 150 inskrywings vir die program ontvang waaruit sewe finaliste deur ’n onafhanklike beoordelaar gekies is om deel te neem aan die program,” verduidelik Ian Scholtz, direkteur van SJ Community Hearts.
Elke finalis moes ’n video oor hulself maak, waarin hulle redes gee hoekom hulle die beurs moet wen. Nog ’n vereiste was dat elke finalis gemeenskapswerk moes doen. Hulle moes hul aspirasies en doelwitte voorlê as motivering vir die beursinskrywing.
“Een van die projekte wat uitstaan, was waar die finaliste Huis Noah in Idasvallei besoek het saam met SJ Community Hearts en uitgereik het na die inwoners daar, deur die middag saam met die inwoners deur te bring, vir elke inwoner ’n geskenk te gee en ook koek en tee saam met die inwoners te geniet.
Verder het die finaliste elk hul eie inisiatief gebruik deur hul eie projekte aan te pak en in die gemeenskap uit te reik, byvoorbeeld kleuterskool-besoeke.”
Scholtz sê SJ Community Hearts (SJCH) en die MWI/MMI-internasionale organisasie het hulpbronne gekombineer om ’n meisie ’n eenmalige geleentheid te bied.
“Hierdie is nie ’n skoonheidskompetisie nie, maar ’n kompetisie wat ’n meisie ten toon stel wat ’n verskil in ander se lewe wil maak deur gemeenskapsdiens, of enige ander platform.
“Die finaliste het die oggend van die byeenkoms vir Andries du Preez (Mr MMI International) ontmoet vir ’n werksessie wat hy aangebied het,” voeg hy by.
Die uiteindelike wenner van die R10 000-beursprogram is Terry Lee Haffit. Ingesluit in die pryse is ’n R10 000-donasie en ’n Samsung Z-Foldselfoon en Samsung-tablet geborg deur die MWI/MMI-organisasie in die VSA. So ook ’n gratis inskrywing vir die 2024 MWI International Pageant wat gehou word in Las Vegas ter waarde van R40 000 en ’n kroon en juweliersware van die Chicago Pearl Company in die VSA. ’n R300- geskenkbewys van De Jagers, ’n geskenkpak van Stelkor Apteek in Stellenbosch,’n geskenkpak van Andries du Preez, ’n fotosessie en ook die werksessie ter waarde van R3 500.
“Die ander finaliste het nie met leë hande huis toe gegaan nie en het elk ’n R1 000-donasie van Mr Marshall vir skooldoeleindes, ’n R300- geskenkbewys van De Jagers, ’n geskenkpak van Stelkor Apteek, asook ’n geskenkpak van Andries du Preez, fotosessie en ook die werksessie ter waarde van R3 500 ontvang,”sê Scholtz.
SJ Community Hearts is in 2020 gestig tydens die nasionale inperking toe die stigters ’n behoefte aan ondersteuning in plaaslike huishoudings wat die negatiefste deur die nuwe Covid-19-beperkings geraak is, gesien het.