’n Nuwe ontwikkeling kom vir Klapmuts – met die ontwikkelaars wat beloof The Bridge sal ’n belegging van miljarde rand na die gemeenskap bring.
Teen die heuwels van Klapmuts het The Bridge Donderdag (7 November) sy amptelike bekendstelling gehad.
Die ontwikkeling van 340 hektaar sal ’n gemengde-gebruikruimte wees, met behuising, klein nywerhede en selfs ’n uitbreiding van die Universiteit Stellenbosch (US) se innovasie-fasiliteit.
“The Bridge streef om ’n volhoubare toekoms hier in Stellenbosch te bou,” sê Lorne Dawson, projekbestuurder vir Stellenbosch Bridge Properties.
Volgens Dawson is die ontwikkeling ’n proeflopie van wat kan gebeur indien daar op ’n volhoubare en inklusiewe manier uitgebrei word.
Die ontwikkeling is langs die N1 geleë en is binne ry-afstand van Stellenbosch, Paarl en Kaapstad se stadskern.
JC Anthony, Klapmuts-raadslid, sê die plaaslike gemeenskap is uitgehonger vir die geleentheid wat The Bridge bring.
“Ná soveel jare van afwagting – die projek is in 2006 begin en het al heelwat ander eienaars gehad – is die gemeenskap gereed. Die gemeenskap het oor die jare heelwat uitgebrei, so ons sit met ’n groot invloei van inwoners en nou is die mense hier. Ons moet antwoorde hê oor wat Klapmuts inwoners kan bied,” sê Anthony.
Hy meen die dae dat Klapmuts ’n gehuggie was, is lank reeds verby.
“Die gemeenskap is gereed om met julle in vennootskap te tree. Die gemeenskap is nuuskierig oor wat alles hier gebeur en hulle is so opgewonde oor die ontwikkeling van die projek. Ons het behoeftes in die gemeenskap en Klapmuts is gereed om hande te vat. Ons is oop vir sake,” het Anthony in sy toespraak gesê.
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, meen die ontwikkeling is ’n katalitiese projek.
“The Bridge is ’n ontwikkeling vir die toekoms. Dit is ’n brug tussen stedelike en landelike omgewings met die Stad Kaapstad en Drakenstein as bure. Ons is dankbaar vir al die betrokke rolspelers wat ons behoefte as regering erken om stedelike en landelike gebiede te probeer verbind vir opheffing en om armoede te help uitwis,” sê Meyer.
Vir die US beteken The Bridge ’n nuwe Launch Lab-fasiliteit wat navorsing gebruik om entrepreneurskap te bevorder. Produkte en dienste word hier op die proef gestel.
Anita Nel verduidelik dit is oorwegend maatskappye vanuit die gesondheids-, landbou-, klimaat- en energiesektore wat ondersteuning van die universiteit ontvang. Nel sê ’n mengsel van laboratoriums, gesamentlike werkspasies en kantore sal by The Bridge in Klapmuts opgerig word.
“Ons skep ’n gemeenskap van entrepreneurs wat deur dieselfde reis gaan as ander entrepreneurs en bied vir hulle enorme ondersteuning deur mentorskappe en presiese inkubasie en ons gee hulle blootstelling aan ons netwerk om beleggings te kry,” sê Nel.
Hierdie model, om verskeie dele van die samelewing byeen te bring, maak volgens rolspelers dié ontwikkeling so innoverend.
Wrenelle Stander, uitvoerende hoof van Wesgro. Stander sê Wesgro is trots om ’n vennoot van die projek te wees gesien dit tot hul doel om ’n florerende sakeomgewing deur innovasie en toeganklikheid te koester. “Die ontwikkeling toon die potensiaal en dinamika van Stellenbosch en ons is veral opgewonde oor die ligging van hierdie projek, wat so toeganklik is per pad, spoor en lug [met verwysing na die beplande Wynlande-lughawe],” sê Stander.
Volgens The Brigde Stellenbosch sal hul ontwikkeling na verwagting 13 000 permanente werksgeleenthede skep.