Prof Thuli Madonsela, die Regstrust-leerstoel in Sosiale Geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die spreker by vanjaar se Russel Botman-gedenklesing – ter viering van die lewe van prof Hayman Russel Botman en sy visie vir opvoedkundige geregtigheid.
Die lesing word op Dinsdag 18 Oktober om 18:00 in die Attie Van Wijk-ouditorium in die Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171 in Stellenbosch, gehou.
Madonsela sal praat oor die tema van geregtigheid teen die agtergrond van prof Botman se lewe en werk.
Die lesing ter herinnering aan die lewe van prof Botman, word jaarliks aangebied deur die Fakulteit Teologie aan die US in samewerking met die kuratoria van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie.
Die Voorsitter van die US Raad, mnr Ainsley Moos, sal op die lesing reageer terwyl die ontvangers van die Russel Botman Beursfonds deur die eggenoot van wyle prof Botman, dr Beryl Botman, aangekondig sal word. (Sien www.russelbotman.com vir meer inligting).
Hayman Russel Botman is in 2000 by die US aangestel as professor in die Departement Praktiese Teologie en Missiologie. Hy was ook die stigter van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie. In 2002 is hy aangestel as Viserektor: Onderrig en in 2007 word hy aangestel as die US se eerste swart rektor en visekanselier. Onder sy visioenêre leierskap is die HOOP Projek in 2010 geloods, met die klem op sosiale relevansie, gelyke geleenthede en akademiese en navorsings-uitnemendheid. Visie 2030 wat in 2013 aanvaar is, is deel van sy nalatenskap: met die oogmerk dat die US ? innoverende, inklusiewe en toekomsgerigte instelling sal wees.
Botman is onverwags op 28 Junie 2014 oorlede.