Die voorgestelde Thuthuzela-sorgsentrum (TTC) vir Idasvallei gaan voort soos beplan, ondanks teenkanting van ’n groep inwoners van dié woonbuurt.
Die oprigting van die sentrum by Botmanshoogte, op die hoek van Proteastraat en die Ou Helshoogtepad, is reeds onderweg. Die eiendom waar die geslagsgebaseerde sorgsentrum opgerig word, behoort aan die Universiteit Stellenbosch.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), wat die sorgsentrum sal bestuur, het aan Eikestadnuus bevestig die planne om die sentrum in die nuwe jaar te open, gaan voort.
“[Die sorgsentrum] sal vroeg volgende jaar open, sodra al die dienste wat benodig word om so ’n fasiliteit te bedryf, beskikbaar is,” het Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder vir die NVG, gesê.
Hy het bygevoeg die gemeenskap sal by die TTC baat.
’n Groep inwoners verskil egter van mening en dring aan die instansies wat die sorgsentrum in Idasvallei oprig, moet met die gemeenskap vergader.
Eikestadnuus het in September berig oor die groep inwoners, onder die leierskap van Magmoed Kara, voorsitter van Stellenbosch Community Care (SCC), wat teen die sentrum betoog het (“‘Idasvallei vind nie baat by sorgsentrum’”, 13 September 2023).
Volgens Kara is die sentrum sonder die wete van die gemeenskap opgerig.
“Ons as die gemeenskap is nie gekonsulteer oor hierdie plek in ons gemeenskap nie. Ons is bekommerd oor die plek, want dit gaan onveilige elemente in ons gemeenskap bring,” het hy gesê.
Kara het opnuut aan Eikestadnuus gesê die SCC sal seker maak die sorgsentrum bly gesluit totdat daar met die gemeenskap vergader word. “Ons sal nie die opening toelaat nie; nie totdat ’n openbare vergadering met die gemeenskap gereël word nie. Ons voel baie sterk oor hierdie saak.”
Wendy Pekeur, die stigter en koördineerder van die Stellenbosch-organisasie Ubuntu Rural Women and Youth, meen egter daar is “geen probleem” met die sentrum nie. Sy beweer die kapsie van die SCC spruit bloot uit politieke en ekonomiese redes.
“Dit is ’n teenkanting van ’n klein groepie mans, en duidelik is dit polities en ekonomies gedrewe. Ek dink mense wil ekonomies voordeel trek uit hierdie sentrum,” het sy gesê.
“Hulle wil dit vir politieke punte gebruik; duidelik het hulle hul eie agenda. Hulle praat nie namens ons gemeenskap nie. Hulle het nie ’n mandaat van die gemeenskap om [die sorgsentrum] teen te staan nie.”
Volgens Pekeur moet die sorgsentrum gesien word as ’n voordeel vir die gemeenskap en nie iets waaruit mense ekonomies wil voordeel uit trek nie. “Ons en talle ander organisasies is ten gunste van hierdie sentrum, want dit gaan eintlik ’n baie veilige plek vir enige slagoffer van geweld wees.”
Pekeur meen die TTC sal die ondersteuningsproses vir slagoffers vergemaklik. “Al die dienste vir slagoffers sal in een sentrum wees – die polisie, mediese dienste, beraders, forensiese dienste en ander ondersteuning wat slagoffers kan nodig hê. Dit is ’n goeie ding, want dan hoef slagoffers nie van plek tot plek te gaan nie en hulle sal ook nie sekondêre trauma hoef te ondergaan nie.”
Sers. Fabian Matthews van die Stellenbosch-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het gesê die gemeenskap hoef nie oor hul veiligheid bekommerd te wees nie. “Die sentrum sal geen gevaar vir die gemeenskap inhou nie. Daar is talle van hierdie sentrums in die Wes-Kaap, waar baie mense gehelp word – en dit werk,” het hy gesê.
Volgens Matthews is die sorgsentrum ’n stap in die regte rigting om slagoffers van geweld te ondersteun, en ten einde geweld in die algemeen hok te slaan. “Die sentrum gaan so baie slagoffers help. As polisie is ons rol om die slagoffers by die sentrum te gaan aflaai, waar hulle die nodige ondersteuning sal kry, en dis soveel beter as wat ons hulle gewoonlik by die hospitaal sou aflaai,” het hy gesê.
“By die hospitaal wag die slagoffers gewoonlik tot vyf ure voordat hulle gehelp word, en hulle voel vuil terwyl hulle daar sit en wag. Dis onmenslik, daarom is hierdie sentrum ’n goeie ding, want dit vat al daardie ongemaklikheid weg.”